Home
DIE WET VAN GOD EN DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS PDF Print E-mail

“Maak ons dan die Wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die Wet.” Romeine 3:31

 

Frustrasie en Mislukking

Baie mense verwar vandag die Wet en die Evangelie met mekaar. Hulle dink hulle moet die Wet gehoorsaam om Christene te word. As gevolg daarvan raak hulle gefrustreerd met hul mislukking, skaamkry en skuldgevoellens. Hulle kan eenvoudig nie verstaan waarom die Evangelie nie vir hulle werk nie. Die probleem is, hulle span die spreekwoordelike kar voor die perde in.

 

Wet en Genade

Verlossing is uit genade alleen, en word alleen deur die geloof ontvang. Ons gehoorsaam nie die Wet om gered te word nie. Ons gehoorsaam die Wet omdat ons gered is.

 

Die Wet veroordeel – maar die Evangelie van Christus verlos.

Die Wet bring ons sonde aan die lig – maar die Evangelie openbaar ons Verlosser.

Die Wet verklaar ons skuldig – maar die Evangelie van Christus offer vergifnis.  

Die Wet eis vergelding – maar die Evangelie bevestig dat Jesus Christus ons skuld voor God betaal het.

 

D. L. Moody het gesê: “Die Wet is ‘n spieël wat ons wys wie ons is – maar jy kan jouself nie met ‘n spieël was nie.”

 

Wat die Wet Nie Kan Doen Nie

Die Wet kan ons nie regverdig nie. Die Wet kan nie red nie. Die Wet kan nie heilig maak nie. Maar, die Wet kan ons sonde aan die lig bring – dit is egter net Jesus Christus wat ons van ons sonde kan verlos.

 

Wat die Wet wel Doen

“Sonde is...oortreding van die Wet van God.” 1 Johannes 3:4

“Die Wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.” Psalm 19:8

“Maar hy wat diep insien in die volmaakte Wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.” Jakobus 1:25

 

Die wet oortuig van sonde (Romeine 7:7-11).

Die Wet veroordeel oortredings (Romeine 4:15; Jak. 2:10).

Die Wet lê boosheid aan bande (1 Timótheüs 1:8-11; Psalm 119:11).

Die Wet dryf mense na Christus (Galásiërs 3:24; Psalm 19:7).

Die Wet is ons riglyn vir heiligmaking (Romeine 8:4).

Die Wet van God lê aan die hart van die Nuwe Verbond: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit... Ek gee my Wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Jeremia 31:31-33.

 

Die Tien Gebooie reflekteer die karakter van God. “Heilig moet julle wees, want Ek, die Here julle God, is heilig.” Levítikus 19:2

 

Plig en Vreugde

Die mense is nooit geskep om outonoom te wees nie – dit wil sê om ‘n wet vir homself te wees nie, maar wel theonoom – onderworpe aan die Wet van God. Dit is nie ‘n slegte ding nie, want God het ons so geskep dat dankbare gehoorsaamheid vir ons die grootste vreugde verskaf. Plig en vreugde loop hand aan hand.

 

Koning David het in die Psalms geskryf: “Laat my wandel op die pad van U gebooie, want daarin het ek ‘n behae.” Psalm 119:35; “Hoe lief het ek U Wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” Psalm 119:97; “...maar U Wet het ek lief.” Psalm 119:113; “Daarom het ek U gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud!” Psalm 119:127

 

Liefde en Wet

Die Apostel Paulus het geskryf: “Dus is die Wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.” Romeine 7:12; “Want ek verlustig my in die Wet van God na die innerlike mens.” Romeine 7:22

En die Apostel Johannes skryf: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en Sy Gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy Gebooie bewaar; en Sy Gebooie is nie swaar nie.” 1 Johannes 5:2-3

 

Die gevalle mens haat God se Wet van harte – omdat dit Wet is én omdat dit van God af kom. Maar, dié wat Christus ken en liefhet, het ook Sy Wet lief en wil dit gehoorsaam, uit dankbaarheid vir God se genade en seën, en om Hom te behaag. God se kinders ontdek ook dat die Heilige Gees hulle lei tot vlakke van gehoorsaamheid aan Sy Wet, wat hulle nooit voorheen kon vermag nie.

 

Pilgrim’s Progress

In Pilgrim’s Progress skets John Bunyan vir ons ‘n pragtige beeld van die verhouding tussen Wet en Genade. In dié geestelike meesterstuk word die hoofkarakter, Christian, deur Tolk na ‘n pragtige, groot vertrek gebring. Die kamer is vir jare nie afgestof of skoongevee nie. Daar lê ‘n dik laag stof en baie spinnerakke. Tolk roep toe ‘n man met ‘n besem om die vertrek skoon te vee. Terwyl die man vee, styg die stof in die kamer op, en Christian verstik, hoes en hyg na sy asem.

 

Toe roep Tolk ‘n vrou en vra haar om die kamer met water te besprinkel. Hierna gaan lê die stof en word die vertrek maklik skoongemaak.  

 

“Wat beteken dit?” vra Christian vir Tolk. Hy antwoord dat die kamer “die hart is van ‘n man wat nooit deur die liefdevolle genade van die Evangelie geheilig is nie. Die stof is sy aangebore sondigheid en innerlike verdorwenheid, wat sy hele menswees besoedel het. Die een wat eerste begin vee het, is die Wet; maar die vrou wat die water gesprinkel het, is die Evangelie.”

 

Wat John Bunyan hiermee vir ons wil duidelik maak, is dat die Wet ons sonde só ontbloot, dat ons geestelik skaars kan asemhaal. Ons verstik van die sonde wat deur die Wet in ons gesigte opstyg - totdat ons oortuig word van die totale verdorwenheid waarin ons verkeer.

 

Diegene wat buite Christus is, wil nie die Wet hoor nie, want hulle weet hulle is skuldig. Dié wat in Christus is, wil dikwels ook nie die Wet hoor nie, want hulle raak beangs wanneer hulle die genade van God vergeet.

 

Ons lees in Pilgrim’s Progress dat Christian - nadat hy vir ‘n lang tyd geworstel het met die groot en uitputtende las van skuld en sonde wat op sy rug vasgebind was – die opdraande pad na Golgota aangepak het.   Terwyl hy na bo geklim het, het hy ‘n kruis gesien, en aan die kruis die Een wat die Seun van God is. Toe hy sy oë na die kruis opslaan, het die swaar skuld-las skielik losgebreek, en van sy rug bergaf gerol en in ‘n donker grafkelder verdwyn – om nooit weer gesien te word nie.

Toe het drie skynende engele hom ontmoet, en hom begroet met: “Vrede vir jou!”

Die eerste een het verklaar: “Jou sonde is vergewe”.

 

Die tweede engel het sy vuil, stinkende, sonde-besmette klere verwyder, en hom beklee met die wit kleed van Christus se volmaakte gehoorsaamheid, sodat hy onbevlek voor die Heilige God kon staan.

Die derde engel het aan hom ‘n verseëlde boekrol gegee, met die waarborg van ewige Verlossing in God se Paradys.

 

Genade en Vergifnis

Oor één ding mag daar geen twyfel bestaan nie: Niemand sal deur Wetsonderhouding in die Hemel kom nie. Jy is ‘n skuldige wetsverbreker, wat God se vergifnis, vryspraak en genade nodig het. Enige diepgaande ontleding van die Tien Gebooie sal elke eerlike persoon tot God om genade en vergifnis laat uitroep: “Here, wees my, arme sondaar, genadig!”

 

Skuld en Genade

Sonder skuld is genade onnodig. Geen genade is nodig waar daar geen sonde is nie. As jy nie ‘n sondaar is nie, hoef God jou nie genadig te wees nie. Waar ellende nie ervaar word nie, word genade nie waardeer nie. Niemand sal na genade soek, alvorens hy skuldig pleit nie.

 

Die Gebooie reinig ons nie; dit oortuig ons dat ons reiniging nodig het, en dring ons om by ons Heer en Verlosser, Jesus Christus, alleen redding te soek.

 

Dis terwyl ons na die vereistes van die Wet kyk, dat ons besef dat ons dit nie gehoorsaam het nie. En wanneer ons kyk na die sondes wat deur die Wet verbied word, dan moet ons erken dat ons skuldig is. Ons is skuldige wetsverbrekers en dit ontbreek ons aan enige hoop om deur volkome wetsonderhouding gered te word.

 

Die Woord van God kom tot almal wat hulle desperate nood besef: “Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit...” Jesaja 55:1-3

 

Goeie Nuus

Die Evangelie is Goeie Nuus vir almal wat besef dat hulle die Wette van die Lewende God verbreek het. God stort Sy genade uit op almal wat besef dat hulle wetsoortreders is - wat voor die Troon van ons Heilige God skuldig staan. God verwelkom almal wat Hom eers gehaat en teen Hom gerebelleer het, en vergewe al ons sondes, en neem ons aan as seuns en dogters in Sy familie. En dan bemagtig Hy ons as Sy diensknegte en soldate, om in Sy Koninkryk diensbaar te wees in die stryd van die geloof. As ons maar net voor Hom wil buig en ons dade van rebellie bely, dan word Sy gawe van die Ewige Lewe ons s’n.

 

Wortel en Vrug

Niemand se goeie werke was nog ooit goed genoeg om te vergoed vir die boosheid en rebellie van die gevalle mens nie. Slegs die bloedige offer van Jesus Christus kon vir ons versoening vergoed. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die regte orde begryp. Dit is eers nádat ons deur geloof in Christus verlos is, dat ons deel word van die familie van God. Dit is slegs dán eers, dat ons in staat is om die Gebooie te gehoorsaam – nie om onsself te probeer red nie, maar omdat ons gered is.

 

In ánder godsdienste doen mense goeie werke omdat hulle meen om op dié manier saligheid te verdien. Mense probeer uitreik na bó om God te ontdek, maar in die Christendom het goeie werke heeltemal ‘n ander duiding: Dit is ons reaksie op die feit dat God na óns uitreik, in en deur ons Here Jesus Christus.

 

Voordat die Eerste Gebod in Exodus 20 gegee is, het God gesê: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” Exodus 20:2-3

 

Verlossing vind eers plaas en dan volg gehoorsaamheid aan die Wet. Dit is slegs wanneer ons God se genadige Verlossing belewe het, dat ons in staat is om Sy Gebooie op ‘n betekenisvolle manier te onderhou. Dis eers wanneer ons ons lewens heelhartig aan Christus oorgee en Sy reinigende en transformerende krag ervaar, dat ons begin besef hoe die Wet van God ons harte deursoek, ons gees inspireer, ons gawes aanwend, en ons denke regeer - op die hoofweg van heiligmaking. Wanneer die Heilige Gees in ons is en ons lei, word God se morele Wet ons standaard, ons gids en ons beveiliging. Dis in ons soeke om God met ons hele hart, siel en gedagtes lief te hê, en ons krag uit Sy Almag alleen te put, dat ons die waarheid van Jesus se woorde ontdek: As julle My liefhet, bewaar My Gebooie.” Johannes 14:15

 

Woorde, Werke en Aanbidding

In die tien bondige voorskrifte van die Tien Gebooie, ontdek ons al die morele deugte, die volle omvang van ons aanspreeklikheid aan ons Skepper en ons verantwoordelikheid teenoor ons naaste. Die kern van al God se bepalings en verordeninge het in die Tien Gebooie neerslag gevind en is daarin opgesom. God vereis van elke indiwidu volkome gehoorsaamheid aan al die konsekwensies van Sy Wet. Die Groter Westminster Kategismus (Vr. 99) leer: “Die Wet bind die hele mens.. tot ewige gehoorsaamheid.” “Dit is geestelik, en daarom raak dit die verstand, wil, toegeneentheid en alle ander vermoëns van die siel, asook alle woorde, werke en gebare.” “… Waar ‘n plig opgelê word, word die teenoorgestelde sonde verbied; en waar ‘n sonde verbied word, word die teenoorgestelde plig opgelê.”

 

Wettiesheid Verwerp

As ons die Tien Gebooie bestudeer, is dit ook noodsaaklik om oor die kwessie van wettiesheid te dink. Wettiesheid is ‘n wanopvatting van gehoorsaamheid. Dit is die valse aanname dat goeie dade ‘n manier is om God se guns te verdien. Wettisisme kan arrogante en neerbuigende aanhangers kweek, selfsugtigheid en hoogmoed huisves en alle nederigheid, vriendelikheid en liefde versmoor.

 

Die wettiese Fariseërs was van mening dat hulle - uit hoofde van die feit dat hulle afstammelinge van Abraham was - gewaarborgde goedkeuring by God geniet het. Hulle het daaglikse onderhouding van die Wet tot die fynste besonderhede geformaliseer. En tog het hulle die hart van die Wet nagelaat. Jesus het die geveinsdheid van die Fariseërs veroordeel, omdat hulle uiterlike vertoon hul innerlike korruptheid versteek het. Hulle was ‘n klomp adders, witgepleisterde grafte vol doodsbeendere. Hulle het hulleself graag voorgedoen as getroue onderhouers van die Wet van Moses. Maar, terwyl hulle die letter van die Wet gehou het, het hulle die belangrikste nagelaat. Hulle breedsprakige en misleide interpretasies van die Wet, het die ware gees en aard daarvan misken. Hulle het God se gesaghebbende Wet vervang met menslike tradisies, en op dié manier mense se gewetens gebind. Hulle was skynheilig, het ander veroordeel, en het die guns van mense gesoek (Matthéüs 23:23-24; Matthéüs 15:3-9; 23:16-24; Markus 2:16; 3:6; 7:1-8; Luk. 20:45-47; Matthéüs 6:1-8; 23:2-7). Wettiesheid is ‘n poging om mense se tradisies op dieselfde vlak as God se Wet te plaas.

 

Die Judaïseerders, wat Paulus opponeer het, was wettisiste wat ander geleer het dat ‘n mens deur wetsonderhouding gered kan word. Hulle het Christene probeer wys maak dat hulle éérs Jode moes word, alvorens hulle Christene kon word. Vir hulle was die besnydenis ‘n voorvereiste vir Redding. Hulle het die genoegsaamheid van Christus ontken, en aangedring op die onderhouding van die Joodse seremoniële wette, rituele en kalender as voorvereistes vir Verlossing. Die Apostel Paulus het in Galásiërs en Kolossense teen die dwaalleer van die Judaïsme gewaarsku, en daarop gewys dat hulle wettisisme die weg van Saligheid verduister, en ‘n ondraaglike las op God se verlostes plaas.

 

‘n Sagte Juk en ‘n Ligte Las

Ons Here Jesus Christus het gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en my las is lig.” Matthéüs 11:28-30

 

He Gives More Grace

“He gives more grace when the burdens grow greater

He sends more strength when the labours increase

To added inflictions He adds His mercy

To multiply trials His multiplied peace.

 

“When we have exhausted our store of endurance,

When our strength has failed before the day is half done

When we reach the end of our hoarded resources

Our Father’s full giving has only begun.

 

“His love has no limit, His grace has no measure,

His power no boundary known unto men

For out of His infinite riches in Jesus

He gives and gives and gives again.”

 

"Amazing Grace"

John Newton, die destydse slawehandelaar wat later ‘n prediker geword het en ook die skrywer was van die bekende lied Amazing Grace, het geskryf: “Ek is nie wat ek kan wees nie, ek is nie wat ek behoort te wees nie, ek is nie wat ek graag wil wees nie, ek is nie wat ek hoop om te wees nie; maar ek dank God ek is nie wat ek voorheen was nie, en saam met die Apostel kan ek sê ‘deur die genade van God is ek wat ek is’”.

 

“O, to grace how great a debtor

Daily I am constrained to be!

And let that grace, Lord, like a fetter,

Bind my wandering heart to Thee.

Prone to wander, Lord, I feel it,

Prone to leave the God I love;

Take my heart, O, take and seal it,

Seal it from Thy courts above!”

 

Kom na die Kruis van Christus

Die Wet sê ‘doen’; die Evangelie sê ‘Gedoen!’

Die Wet sê ‘gaan’; die Evangelie sê ‘Kom!’

 

“Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu.” Jesaja 1:18

 

“Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde.” Jeremiah 31:3

 

Niks kan ons van die liefde van God skei nie (Romeine 8:39).

 

“Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?” Romeine 8:33

 

Jy het die Wet van God gehoor. Jy het die Evangelie van ons Here Jesus Christus gehoor. Het jy sonde bely en jou van jou opstandigheid teenoor God Almagtig bekeer? Bely jou sonde en word vernuwe.

 

“Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Jesaja 55:6-7

 

“Love so amazing, so divine, shall have my life, my soul, my all!”

 

 

Die boonste artikel is geneem uit Die Tien Gebooie – God se Volmaakte Wet van Vryheid boek, geskryf deur dr. Peter Hammond.

 

Tien-WEB

Om meer te sien oor die oorspronklike Engelse weergawe, The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty, klik hier.

 

 

Albei boeke kan verkry word vanaf:

 

Christian Liberty Books

Hulpbronne vir Hervorming en Herlewing

Posbus 358 Howard Place 7450 Pinelands, Kaapstad, Suid-Afrika

Tel: 021 689 7478 Faks: 086 551 7490

This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it "> This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

www.christianlibertybooks.co.za

 

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.