Home
Jy Mag Nie Begeer Nie PDF Print E-mail

Begeerte is ‘n wortel van sonde, wat terugdateer tot in die Tuin van Eden. Die Bybel vertel van koning Saul se afguns op Dawid se sukses, en hoe Saul die lof en eer wat Dawid vir sy oorwinnings te beurt geval het, begeer het. (1 Sam. 18:6-8). As gevolg daarvan het Saul beplan om Dawid te vermoor. Op sy beurt het Koning David sy buurman, Urija, se vrou begeer. Hy het met haar egbreuk gepleeg, en toe beplan om Urija te laat vermoor - om sy sonde te verbloem. (2 Sam. 11:1-27).

DIE VLOEK VAN BEGEERTE

Koning Agab het Nabot se wingerd begeer. (1 Kon. 21:2-4). Die profeet Miga het gewaarsku teen dié wat ander se goed begeer: “Hulle begeer ‘n stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul ‘n man uit sy huis uit, ‘n mens uit sy besittings uit.” Miga 2:2

Terwyl ek een keer na ‘n bedieningsgeleentheid op pad was huis toe, het die militêre kapelaan met wie ek saamgery het, stilgehou om vir ‘n vrou wat duidelik ontsteld was, die geleentheid te gee om saam te ry. Nadat hy vir ‘n ruk ernstig met haar gepraat het, het hy haar by ‘n naby-geleë dorpie afgelaai. Toe het hy vir my te verduidelik hoekom die vrou so ontsteld was. ‘n Familielid het gesterf en al die familielede het die geld vir die begrafnis aan haar toevertrou. Sy moes daarmee alles organiseer. Op pad na die lykshuis het sy ‘n dobbelhuis gesien, en toe gedink dat sy die geld kon verdubbel, sodat sy die helfte vir haarself kon hou. Sy kon dalk selfs die geld drie of vier keer meer maak!

Sy het so pas alles weggedobbel, insluitende die duisende Rand wat deur die familie aan haar toevertrou was vir die begrafnis reëlings. Nie en van hulle was welaf nie. Al die geld het groot opoffering geverg. Sy kon nie dink waar hulle nou weer geld vandaan kon kry nie – om vir die begrafnis te betaal. In haar geval het begeerte katastrofiese gevolge gehad, wat haar lewe en verhoudinge met haar uitgebreide familie kon vernietig.

DIE RYK DWAAS

In die gelykenis van die ryk dwaas, waarsku Jesus ons: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Luk. 12:15-21

“Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het , want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in ‘n strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. ” 1 Tim. 6:10

DIE LIEFDE VIR GELD IS ‘N WORTEL VAN KWAAD

Daar is baie mense in ons samelewing wat voortdurend daarop uit is om méér speelgoed op te gaar – groter, beter, luukser karre, bote, tuis-vermaak toestelle, selfone, 1Pods, rekenaars en net omtrent alles waaraan jy kan dink - om die eenvoudige rede dat hulle begeer wat ander besit. Adverteerders teer op ons afgunstige neigings, en probeer ons voortdurend wysmaak: “Jy kan dit alles hê. Jy is dit werd!”

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe..” 1 Joh. 2:15-17

OM GOED LIEF TE Hê, MAAR MENSE SEER TE MAAK

Skoolkinders is al letterlik vermoor vir handelsnaam hardloopskoene en klere. Ons word daagliks gebombardeer met allerlei advertensies wat spesifiek ontwerp is om ons te verlei om goed te begeer. En as ons ingee, sal ons nooit tevrede wees nie.

Ons sal altyd net nog ‘n ietsie wil hê. Toe die biljoener John D. Rockefeller gevra is: “Hoeveel geld is genoeg?”, was sy antwoord: “Net ‘n bietjie meer.” Dit is die wese van begeerte. Dit wil altyd méér hê. Ek sien soms buffer-plakkers en T-hemde waarop staan: “Gebore om te koop”. Op ‘n ander een staan: Wie met die meeste speelgoed sterf, het gewen!” Wat ‘n tragiese, kortsigtige, oppervlakkige, materialistiese en leë lewensdoel!

Dis tragies dat sommige mense werklik kan glo dat hulle primêre doel in die lewe, is om goed op te gaar. In plaas daarvan om mense lief te hê en dinge te benut, is daar al te veel mense wat goed liefhet en mense misbruik.

GIERIGHEID IS AFGODERY

Gierigheid is ‘n sonde waaroor daar nie baie gepraat word nie. Slegs enkele mense herken die verraderlike aard daarvan, en dit maak van gierigheid een van die gevaarlikste sondes.

Paulus het geskryf: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God...Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.” K ol. 3:2-6

‘N SAAK VAN DIE HART

Jesus het die Fariseërs tereg gewys, omdat hulle die buitekant van die beker skoonmaak, terwyl die binnekant vol allerlei vuilheid en boosheid was. (Mat. 23:25-26). Die Fariseërs was puntenerig oor die uiterlike detail van die Wet, maar hulle harte was besoedel. Jesus het gewaarsku: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.” Matt 15:19

Gierigheid is die wortel van allerlei boosheid. Die Tien Gebooie is uiters belangrik, omdat dit die hart, die innerlike mens aanspreek. Dit is geestelik: “Ons weet tog die wet is geestelik.” Rom. 7:14.

Die Tien Gebooie wys ons hoe om die ander Gebooie te interpreteer, nl. om nie slegs die uiterlike te beoordeel nie, maar ook gedagtes en motiewe. Dit het oortuigingskrag. “Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel...Ek sou... nie geweet het dat dit sonde is om te begeer, as die Wet nie gesê het: ‘Jy mag nie begeer nie’” Rom. 7:7

DIE WORTELS VAN SONDE

Gierigheid is die wortel van verraad. Dit het veroorsaak dat Juda vir Jesus verraai het. “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hane kom?” Mat. 26:15. Absalom se gierigheid was die rede waarom hy sy pa se kroon van sy kop wou afruk. Demas het toe geblyk ‘n Judas te wees. Gierigheid is die wortel van moord.

Hoekom het Agab vir Nabot laat stenig, ánders as om sy wingerd te bekom? (1 Kon. 21:13). Gierigheid lei tot bloedvergieting. Kan ‘n mens se hart skoon wees, as jou hande met bloed bevlek is? (Jes. 1:15). Gierigheid is die wortel van meineed. Uit liefde vir geld sal mense vals verklarings aflê en ‘n regverdige eed verbreek. Gierigheid is die wortel van omkopery en onreg. Gierigheid is die wortel van afgodery: “...gierigheid , wat afgodery is” Kol. 3:5.

TEVREDENHEID

Die Tiende Gebod is ‘n beroep op ons om tevrede te wees met wat ons het. Om nie te begeer wat ander besit nie. Om die soeke na groter geluk en vreugde - deur die opgaar van materiële welvaart, besittings, ‘n ánder se lewensmaat en ánder se vriende - te vermy. Ons mag nie toelaat dat aardse goed die leemte vul, wat net deur God gevul kan word nie. “U het ons vir Uself geskape, en ons harte bly rusteloos, totdat hulle in U vrede vind.” (Augustinus).

BEHOEFTES IS NIE GULSIGHEID NIE

Ons moet God vra om in ons behoeftes te voorsien. Die Here belowe dat Hy sal voorsien wat ons nodig het (nie in ons gulsigheid nie) as ons Hom eerste plaas, en nie geld, gewildheid of besittings nie.

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede net wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie’“ Heb. 13:5

Jesus daag ons uit: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle Hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Mat. 6:31-33

KYK NA DIE VOëLS

“Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet en drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: Hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle Hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Mat. 6:25-26

Die boodskap ‘Soli Deo Gloria’ op elke Rand-muntstuk, moet ons daaraan herinner dat ons nie God én geld kan dien nie. Die mens se hoogste roeping is om God te aanbid en vir ewig te geniet.

ONTEVREDENHEID AANGEBLAAS

In die algemeen is die doel van advertensies en bemarking om op mense se onversadigbare ontevredenheid te teer, deur ‘n beroep op hulle selfsugtigheid. Die meeste adverteerders belowe tevredenheid, as ons maar net húlle produk koop. Baie advertensies suggereer dat as ‘n mens húlle produk koop, jy omring sal wees deur vriende, ‘n beeldskone wederhelfte, en dat jy ‘n wonderlike, genotvolle lewe sal geniet.

Dié adverteerders doen navorsing oor wat mense begeer, en ontlok mense se natuurlike geneigdheid om ontevrede te wees met wat hulle het. Toe die ryk jong man vir Jesus gevra het “wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”, het Jesus hom op die kern van die Tiende Gebod gewys: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Mark. 10:21

Gierigheid is nie dieselfde as ambisie nie. Daar is in ons ‘n Godgegewe begeerte om die beste persoon te wees, wat ons kan wees. Daarteenoor is gierigheid ‘n oordrewe begeerte na wêreldse goed. Gierigheid het nie met behoeftes te make nie, maar met hebsug. Dit is ‘n verterende begeerte na méér as wat ons nodig het, of verdien.

DOBBEL IS ‘N VRUG VAN SONDE

Dobbel is beide die vrug en die wortel van sonde. Dit is beide die gevolg en die oorsaak van sonde. ‘n Mens dobbel omdat hy begeer om geld te wen, wat hy nie deur eerlike werk verdien het nie. Gierigheid is ‘n vorm van afgodsdiens. Die dobbelhuis is nie maar net ‘onskadelike vermaak’ nie, maar in baie gevalle is dit ‘n desperate en vrugtelose poging om te oorleef. Maar die kanse om te verloor is so ‘n wrede werklikheid, dat dobbel eintlik maar diefstal deur instemming is (Larry Burkett, ‘Truth About Gambling and Lotteries’).

DOBBEL IS SLEGTE RENTMEESTERSKAP

Christene moet wyse rentmeesters wees van die middele wat God aan ons toevertrou het. Om geld deur dobbel te verloor, is swak rentmeesterskap. Wie deur dobbel geld wen, doen dit ten koste van baie ander. Dobbel is ‘n klasieke voorbeeld van die liefde vir geld, wat die wortel van baie soorte kwaad is. Dobbel is ‘n groot oorsaak van die afskeep en verbrokkeling van gesinne. Geld wat op kos en klere en behuising bestee moes word, word uitgedobbel. In sommige gevalle het dobbel tot moord gelei. Dikwels lei dit tot luiheid. Die Skrif sê: “…wie nie wil werk nie, moet ook nie eet nie.” 2 Tes. 3:10

‘N BEDRYF WAT SELFSUG EN GULSIGHEID STOOK

Om iemand te verlei om geld te maak ten koste van ander, verbreek feitlik elke beginsel wat Christus ons geleer het. Dit kweek selfsugtigheid, gulsigheid en afguns. Die London School of Economics het bereken dat die las van dobbelary die armes agt maal méér benadeel, as die rykes.

“Dobbel dra niks by tot algemene welsyn nie. Dit ondermyn waardes, maak arbeid bespotlik, finansier misdade, beroof kinders, verslaaf mense, ondermyn regering en vergiftig enigiets wat daarmee in kontak kom.” (‘Gambling a Deadly Game’ deur Larry Braidfoot).

Dobbel het nie slegs ‘n vernietigende uitwerking op gesinne en die samelewing nie, maar dit vernietig ook die individu. Gesinsverbrokkeling, egskeiding en die verlies aan vriende, is dikwels die gevolg. Nadat dobbel in Namibië gewettig is , het ‘n Namibiese amptenaar opgemerk: “Al waarin ons geslaag het, is om ‘n paar mense baie ryker te maak en ‘n klomp mense baie armer.” Die Namibiese verslag het uitgewys dat die wettiging van dobbel daartoe gelei het dat meer werksgeleenthede verlore gegaan het, as wat geskep is.

VERNIETIG DEUR LOTERY.

Brittanje se nasionale lotery is in 1994 begin en is bemark as “’n droom kaartjie na persoonlike rykdom”. Dit het wel sommige goeie sake ondersteun, maar het vinnig in ‘n nagmerrie ontaard. Sommige miljoenêrs was verplig om weg te kruip a.g.v. die sakke vol bedel-briewe en die haat-veldtogte teen hulle. Welsynsorganisasies het gekla dat hulle donasies drasties afgeneem het, terwyl hulp-organisasies ‘n massiewe toename in verslaafde dobbelaars gerapporteer het, na wie hulle moes omsien. Die armste en mees kwesbare mense, wat dit die minste kon bekostig, was diegene wat week na week in dobbel ingetrek is. Gamblers Anonymous het gerapporteer dat mense op alle vlakke van die samelewing deur die lotery geruïneer is.

KASINO’S EN MISDAAD

‘n Verslag uit Denemarke het aan die lig gebring dat byna twee miljoen Deense burgers (uit ‘n bevolking van net oor die vyf miljoen) elke week loterykaartjies koop. Die verslag meld dat gewettigde dobbel in die land gelei het tot alkoholisme, persoonlike ekonomiese agteruitgang, egskeidings en selfmoorde. “Wie hom verryk ten koste van ‘n ander, maak dat sy gesin verstoot word.” Spr. 15:27

‘n Verslag deur US News and World Report het aangetoon dat misdaad toeneem, oral waar dobbelhuise geopen word. Daar is duidelike, gedokumenteerde getuienis dat gewettigde dobbel gepaard gaan met ‘n massiewe toename in omkopery, bedrog, afpersing en bankrotskappe, by sowel besighede as individue.

GIERIGHEID SKEP CHAOS

Die chaos, wetteloosheid, vernietiging, armoede en hongersnood in Zimbabwe is ‘n duidelike waarskuwing van waarheen die sonde van gierigheid kan lei. “Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ‘n ramp oor sy eie familie gebring het.” Hab. 2:9

Geldgierigheid is selfsugtigheid. “Ek benodig! / wil hê! / moet hê / Gee my!” Gierigheid skryf vir die hart voor om te droom en beplan vir die goed van hierdie wêreld, in hierdie lewe. Gierigheid begeer geluk en soek vervulling in materiele besittings. Gierigheid fokus hart en gedagtes op gewildheid, aansien, status, roem, posisie, besittings, eiendom, persoonlike voorkoms of selfs “jou naaste se vrou”.

VERSMOOR DEUR BEKOMMERNIS

In die gelykenis van die saaier praat die Here Jesus van diegene wat verstrengel raak in bekommernis, rykdom en die genot van hierdie lewe. Inhaligheid kan geestelike oorwegings versmoor. Dis soos vloedwaters wat alle grense oorstroom, en wat, sonder rigting of selfbeheersing, alles in sy pad kan meesleur. Mense wie se harte en gedagtes aan hebsug oorgegee is, het doodgewoon nie enige energie of entoesiasme oor vir ware, belangrike geestelike aktiwiteite nie. Gierigheid is soos ‘n aggressiewe kanker wat vinnig sy slagoffer oorweldig, en alle gesondheid en effektiwiteit aftakel en geestelike lewe vermink.

AFGODIES EN AANSTEEKLIK

Gierigheid is afgodery, en dit is aansteeklik. Dit verlaag mense, en hou hulle besig met onbenullighede. Gierigheid verg geweldig baie tyd en energie, en van alle sondes is dit die mees self-regverdigende.

Gierigheid is ‘n hoogs subtiele sonde. Dit verdoof en vernietig die gewete – na die mate wat luukses noodsaaklikhede word. Die Apostel Paulus het opdrag gegee dat iemand wat geldgierig is, nooit as ‘n ouderling mag dien nie. (1 Tim. 3:3). Hy het ook geskryf dat gelowiges nie moet omgaan “met iemand wat homself ‘n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ‘n afgodsdienaar of ‘n kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.” 1 Kor. 5:11

VLUG VAN VERSOEKING

Ons behoort van versoeking weg te vlug, soos Josef en Daniël gedoen het, soos vir ‘n dreigende ramp. Die Skrif stel dit duidelik: “...weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen...geldgieriges...sal deel kry aan die koninkryk van God nie.” 1 Kor. 6:9-10

Een van die beste waarborge teen die kanker van gierigheid, is om ‘n gesindheid van dankbaarheid te kweek. ‘n Ander is om vergenoegdheid en vrygewigheid aan te leer. Dis moeilik om inhalig te wees as ons dinge weggee.

KWEEK ‘N GESINDHEID VAN DANKBAARHEID

Om die sonde van gierigheid in jou lewe te oorwin, moet jy die Woord van God bestudeer en jou seëninge tel. “Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.” Fil. 4:11-13

Bo alles moet jy God liefhê.

Buig nie voor hout of klip.

Gebruik Sy Naam nooit ydel.

Hou die Sabbat getrou.

Eer altyd jou ouers.

Beskerm onskuldige lewens.

Wees getrou aan jou lewensmaat.

Moet niks, klein of groot, steel nie.

Praat altyd die waarheid oor jou naaste.

En hou selfsugtige begeertes uit jou gedagtes.

“Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie” Kol 3:2

Uittreksels:

“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of..’n bees...of enigiets anders wat aan hom behoort nie.” Eks. 20:17

Ons samelewing is gefokus op méér. Adverteerders maak ons wys dat ons meer nodig het. Die media druk ons om meer te wil hê. Vandag sien ons so baie mense wat goed liewer het as mense.

Die Tiende Gebod leer ons hoe om die ander gebooie te verstaan, omdat dit ons gedagtes en diepste motiewe aanspreek.

God belowe om in ons behoeftes te voorsien, nie in ons gulsigheid nie. Dobbel, as voorbeeld van gierigheid, is sowel die gevolg as die oorsaak van sonde.

Gierigheid is ‘n subtiele sonde, dit verdoof en vernietig die gewete – soos wat luukses noodsaaklikhede word en ons nie langer na God kyk om vir ons te sorg nie.

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.