Home
DISSIPLINE of WANORDE PDF Print E-mail

Die hele kwessie rondom "dissipline" word dikwels eerder vermy, as wat dit behoorlik aangespreek word. Die rede? Dit roep gedagtes op van misbruik, verwaarlosing en ’n algemene liefdelose tuiste. Selfs onder bekommerde Christen-families is daar so baie vrae oor die regte manier om kinders te dissiplineer. Hierdie vrae oor dissipline bly dikwels onbeantwoord.

 

Ek moet nog van kerke hoor wat die onderwerp "dissipline" voldoende aanspreek om sodoende ouers te kan help om deur hierdie mynveld te kom. God is ’n God van orde, en nie van chaos nie - en ons huise moet dit weerspieël. Die Skrif praat baie duidelik oor hierdie onderwerp en ouers behoort daarop ag te slaan. Nie net sal ons kinders se siele dan blom nie, maar ons huise sal veel aangenamer plekke wees vir almal wat daar woon. In plaas daarvan om te wag totdat ons kinders baie ouer is, behoort dissipline reeds in die eerste jaar of twee van hul lewens te begin.

 

Leer ’n Kind

Miskien is "leer" ’n meer aangename woord om te gebruik. Spreuke sê baie duidelik dat ons ons kinders die weë van die Here moet leer, en geen lering kan sonder dissipline geskied nie. ’n Goed-gedissiplineerde atleet is ’n goed-afgerigte atleet; met kinders is dit presies dieselfde. Ouers wat alreeds tydens hul kinders se eerste lewensjare ’n verhouding van vertroue en respek met hul kinders vestig, het klaar hierdie eerste stap in die "leerproses" geneem. Ons moet ons kinders geniet, en ook sorg dat hulle ons geniet. Hulle behoort ons dikwels te sien glimlag, ons goedkeuring te sien vir dit waarmee hulle doenig is en ons aanraking, vreugde en drukkies te ervaar. Kinders wat in so ‘n omgewing grootword, weet dat hulle ouers net die beste vir hulle wil hê. As dit die basiese reëls is, sal alle lering hieruit voortvloei.

 

Onmiddellike Gehoorsaamheid

Een van die eerste basiese reëls is "onmiddellike en vriendelike gehoorsaamheid." Indien ons as ouers onsself voortdurend moet herhaal, ons stemme moet verhef, of moet begin tel om die regte reaksie te kry, moedig ons "vertraagde gehoorsaamheid" aan, wat presies dieselfde is as ongehoorsaamheid.

 

Die ideaal is natuurlik dat ouers as "teregwysers" nie die grense van ons vertroulikheid met ons kinders moet oorskry nie. Teregwysing moet in die atmosfeer van vertroue en respek geskied. Indien ons die harte van ons kinders verloor, verloor hulle die begeerte om ons te plesier en tevrede te stel. Bestraffing en tug behoort nie die oorheersende element in enige huishouding te wees nie - dit sal beslis enige verhouding skaad. Ons kinders behoort te weet dat ons as ouers aan ’n Hoër Gesag onderworpe is - ons Here Jesus Christus! Ons het ook grense en ons kinders behoort dit ook te respekteer. Tensy ons ons kinders leer om ons ouerlike gesag te respekteer, hoe kan ons van hulle verwag om God se gesag te aanvaar?

 

Indien en wanneer rebellie wel kop uitsteek, is dit die beste om geheel en al beginselvas op te tree.

 

Reëls Behoort Eenvoudig en Beginselvas te Wees

Ons reëls behoort eenvoudig en volhoubaar te wees en ons - as die wetgewers - behoort altyd aan die wenkant te wees. God het tien Gebooie gegee - ons behoort dus nie vir ons kinders méér te hê nie. Skryf die "ononderhandelbare" reëls neer, en hou daarby. Altyd. Dit is ongetwyfeld die moeilikste ding vir ’n uitgeputte ouer aan die einde van ’n lang dag.

Dit is tog só waar, dat baie ouers hulself eers moet dissiplineer, voordat hulle hul oproerige kinders kan uitsorteer.

 

Moenie Uit Woede Dissiplineer Nie

Ons moet nooit uit irritasie of woede dissiplineer nie. Die tugtiging van kinders moet altyd ten doel hê om hulle as mense te verbeter, omdat hulle siele op die spel is.

 

Indien ’n pakslae vereis word, moet dit in die privaatheid van ’n slaapkamer geskied. Om sommer blindelings in die verbygaan ’n hou uit te dien, was nog nooit ’n goeie strategie nie. Neem die kind na ’n stil plek, verduidelik die oortreding en vra of hy of sy dit verstaan. Vra hom of haar dan om gewilliglik te buk en gebruik ’n pantoffel met ’n rubber sool. Dit is buigsaam genoeg dat jou kind nie kneusplekke sal opdoen nie, maar dat dit tog gevoel sal word. Ná die straf moet jy tyd saam met jou kind deurbring - in liefde. Herinner hom of haar daaraan dat jy vir hom of haar lief is en gee gerus ’n drukkie of twee. Bid ook saam en maak seker dat hy of sy besef dat dit jou plig is om jou kinders volgens God se opdrag groot te maak, sodat hy of sy ’n God-vererende persoon kan word.

 

Wees Redelik en Liefdevol

Bo alles moet ons egter liefdevol, redelik, konsekwent en innerlik sterk wees. Ons moet altyd daar wees - liefdevol, glimlaggend - die toegeeflike "voorman" van die huishouding. Onthou: Dissipline is ’n saak van die hart. Ons is die bewakers van ons kinders se harte. Indien ons op ’n baie beginselvaste manier die rebellie van ’n tweejarige hanteer, sal dit die lewe soveel makliker maak as die kind dertien of veertien is. Maar, dit is nooit te laat vir ouer kinders nie.

 

Bid en Bely

Ouers behoort die verkeerde hantering van dissipline te bely, en God te vra om hul Leidsman te wees wanneer dit by die dissiplinering van hul kinders kom. Soek raad in die Skrif en vra ook die hulp van ander suksesvolle ouers wat jy dalk ken. Vra jou kinders om verskoning vir jou mislukkings en verduidelik aan hulle dat dinge van nou af anders gaan wees - met Sy hulp. As ouers behoort ons nie net geïnteresseerd te wees in die akademiese- of sport-suksesse van ons kinders nie. Ons moet beslis ook aandag gee aan hulle vriende. Hierdie is uiters belangrike aspekte van hul lewens, maar niks is so belangrik soos die vorming van ’n goddelike karakter nie. Alle sukses is vergeefs indien hul karakter, hart en gedrag nie goddelike lering weerspieël nie.

 

Geen Groter Vreugde

In sy boek "No Greater Joy" som Michael Pearl dit só goed op: "Wat kan sukses genoem word as jou kinders uitdraai om deel van die wêreld se probleme te wees, in plaas van die oplossing? Watse satisfaksie kan daar wees as ons kinders groot word met die behoefte om raad te ontvang in plaas daarvan om dit te kan gee. Die sukses van ‘n boom en ‘n man word gemeet aan die vrugte wat hulle dra. Die vrugte van ‘n man of ‘n vrou is hulle kinders; alles anders is vallende blare. Laat ek nie my "gee" meet aan die geld wat ek op hulle spandeer of die opvoeding geleenthede wat ek vir hulle kan bekostig nie, maar meet dit eerder aan die hoeveelheid ure wat ek op hulle spandeer as kwaliteit tyd. Mag hulle gradeer van my tutorskap om dissipels te word van die Man van Nasaret. Mag hulle goed en kwaad leer vanaf die toppunt van gehoorsaamheid eerder as vanaf die put van wanhoop. Mag hulle die wysheid hê om die kosbare te kies, en die moed om die afgesaagde en nuttelose dinge van die lewe te verwerp. Mag hulle altyd werk vir die voedsel wat geen einde het nie. Mag hulle liefhebbers van God wees, medewerkers van die Heilige Gees, en ‘n vriend aan Here Jesus. En wanneer hulle weg eindig, mag dit eindig by God se troon, met die neerlê van krone by die voete van die Redder."

 

Inspirerende Doel

Mag hierdie doel ons inspireer om ons kinders op God se aangewese wyse te dissiplineer en te leer, aangesien hulle vir so ’n kort rukkie in ons sorg is.

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.