Home
HOE WEET ONS JESUS LEEF? PDF Print E-mail

“Wat Sy heilige Goddelikheid betref - Sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is.” Rom. 1:4.

Wie Het Die Steen Weggerol?

Christus se Opstanding is uiters belangrik en die kern van die Christelike geloof. Dit is juis die rede waarom dit die teiken van die mees meedoënlose aanvalle is. Frank Morrison, ’n regspraktisyn, het hom beywer om te bewys dat die Opstanding nooit plaasgevind het nie. Die uiteinde van al sy vermoeiende ondersoeke was dat hy hom tot die Christendom bekeer het en ’n boek, ’Who Moved the Stone?’ geskryf het. In die publikasie word daar oorweldigende getuienis oor die Opstanding aangetoon.

Bewyse Wat ’N Uitspraak Vereis

Josh McDowell was ’n baie skeptiese universiteitsdosent wat vasbeslote was om die Christelike geloof te weerlê, deur die besware teen die Opstanding te ondersoek. Die resultaat? Bekering tot die Christendom en die uitstaande boek ‘Evidence That Demands a Verdict’ sien die lig. Hierin is daar volledige en afdoende bewyse wat die historiese waarhede, feitelike korrektheid, argeologiese bewyse, manuskripbewyse, vervulde profesieë, veranderde lewens en ander onweerlegbare bewyse wat die Opstanding van Christus onderskryf, weergee.

Die Feite

Thomas Arnold, Professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Oxford en een van die grootste historici van die 19de Eeu, het geskryf: “I know of no one fact in the history of mankind which is proved by better, fuller evidence of every sort, to the understanding of a fair

enquirer, than the great sign which God has given us that Christ died and rose from the dead.”

Ondersoek Die Bewyse

Een van die mees gerespekteerde regspraktisyns van alle tye en die vader van die Harvard Law School, Simon Greenleaf, word gereken as die mees gesaghebbende persoon oor geldige bewyse in enige regsgeding. Hy het ’n baie deeglike studie van die objektiewe bewyse en getuienis van die vier Evangelieskrywers, Matteus, Markus, Lukas en Johannes gemaak, en ’n boek daaroor gepubliseer: -’The Testimony of the Evangelists’ (Baker, 1874). Daarin het hy tot die gevolgtrekking gekom: “It was therefore impossible that they could have persisted in affirming the truths they have narrated, had not Jesus actually risen from the dead, and had they not known this fact as certainly as they knew any other fact.”

Simon Greenleaf het ook verklaar dat enige geregshof, indien hierdie bewyse voorgelê sou word, uitspraak sou lewer ten gunste van die integriteit en akkuraatheid van die Evangelieskrywers oor die Opstanding.

Een van die gewildste boeke wat ooit geskryf en een van die suksesvolste films wat ooit geproduseer is, ’ Ben Hur’, was die gevolg van die skeptiese uitdaging aan Generaal Lew Wallace oor die betroubaarheid van Christus se Opstanding en die noukeurige ondersoek van die bewyse daarvan.

Wat Is Die Ware Feite?

Vir die godsdienstige leiers - die Fariseërs en Sadduseërs, wat ’n veldtog gelei en saamgesweer het om Christus te arresteer en Hom triomfantelik tereg te stel - was die weerlegging van enige aanspraak op die Opstanding van groot belang.

Hulle het gedink dat die teregstelling van Jesus die bedreiging van hulle godsdienstige magsbasis sou elimineer en Sy ondersteuners vir ewig sou stilmaak. Hulle was gevolglik bekommerd oor die Liggaam van Jesus en het die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, om militêre hulp genader, ten einde die graf te beveilig. (Mat. 27:62-66).

Die Romeinse goewerneur se belange was om die oproerige Palestina-provinsie se vrede en stabiliteit te herstel. Hy het die politieke konsekwensies raakgesien, wat uit hierdie situasie met die godsdienstige Leermeester, wat hy drie keer onskuldig verklaar het, kon voortvloei. Uiteindelik het hy sy hande voor die skare gewas en verklaar: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle rekening.” Mat. 27:24.

Pilatus was maar al te bewus van die bespotting wat daar van die gereg gemaak is en die laaste ding wat hy nodig gehad het, was ’n hersiening van sy skandalige gedrag en die ontduiking van verantwoordelikheid en plig in hierdie saak. Om seker te maak dat die liggaam in die graf bly, was gevolglik beslis in Pilatus se beste politieke belang. “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed as moontlik.” Mat. 27:65.

Die Romeinse Wag

Die feit dat die hoofpriesters die Romeinse goewerneur genader het, sowel as die gebruik van die Griekse woord ’koustodia’ (wat ’n afdeling soldate beskryf) bevestig dat dit Romeinse wagte was wat die graf bewaak het. As slegs ’n tempelwag gebruik was, sou dit nie nodig gewees het om Pilatus daaroor te nader nie. Die wagte het gevrees dat die goewerneur hulle nie sou beskerm teen die gevolge van die Opstanding nie. (Matt 28:14) Die groep sou uit minstens 16 soldate bestaan het - met vier soldate per diensbeurt - direk voor die ingang na die graf. Die Romeinse militêre wet het vereis dat enige wag wat sy pos sou verlaat, of wat aan die slaap sou raak tydens sy wagbeurt, gekruisig sou word. Enigiemand wat die Romeinse seël sonder toestemming sou breek, sou vervolg en tereggestel word.

Alhoewel dit die voorneme van die godsdienstige en politieke leiers was om seker te maak dat hierdie hele ’Jesus-fenomeen’ by die graf sou eindig, het die buitengewone veiligheidsmaatreëls net die waarheid – nl. dat hulle ’n onskuldige man vermoor het, en dat Jesus Christus werklik die Messias, die Seun van die Lewende God was - bevestig.

Teorieë

Ten einde die leë graf te rasionaliseer, moes die vyande van die Evangelie desperaat gryp na misleidende teorieë. Die eerste was om voor te gee dat die dissipels die liggaam gesteel het. Dié ongelooflike teorie moes mense wysmaak dat dit dieselfde dissipels is wat in Getsemane geslaap het, wat tydens Sy arrestasie gevlug het, wat Hom voor die jong diensmeisie verloën het en bang agter toe deure weggekruip het – dat dit húlle was wat sáám 16 professionele Romeinse wagte kon oorval, dit durf waag het om die Romeinse seël van die graf te breek, en ’n rots van twee ton beweeg het - net om ’n dooie liggaam te steel! ’n Dooie Messias sou tog mos geen doel vir die dissipels dien nie. Wat kon die moontlike motivering wees indien hulle wel die wagte kon oorval en al die politieke en logistieke hindernisse te bowe kom? Hulle het absoluut niks gehad om te wen nie, maar alles om te verloor. Elkeen van die dissipels het na die Opstanding onder ernstige vervolging gely en die meeste het as martelare gesterf. Sou jy vir ’n leuen sterf?

Het Jesus Waarlik Gesterf?

Ander weer bevraagteken die feit dat Christus werklik aan die Kruis gesterf het. Moontlik het Hy net flou geword? Hierdie “flou-” teorie wil ons wys maak dat die Romeinse soldate - wat professionele moordenaars was (die hoofman oor honderd het heel waarskynlik oor meer as honderde teregstellings toesig gehou) - gefaal het in hul pogings om seker te maak dat hierdie hoë-profiel-gevangene waarlik dood is. As die wreedaardige geseling wat Jesus moes deurmaak, die verskriklike kruisiging en die spies in Sy sy (waaruit water en bloed gevloei het) in berekening gebring word, is dit oortuigende en genoegsame bewys dat Hy werklik gesterf het.

En tog, die voorstaanders en verkondigers van hierdie “flou” teorie wil ons laat glo dat die Een wat soveel kon verduur, nie net die Romeinse militariste doeltreffendheid oorwin het nie, maar ook op ’n koue klipblad in ’n koue graf vanself herstel het. Verder het Hy ook nog van die grafklere, ‘n honderd pond speserye, salwe en toedraai-doeke - wat Hom effektief sou mummifiseer - asook die twee ton rotsblok ontslae geraak, en boonop die Romeinse soldate effektief ontwyk. En Hy sou nog steeds die dissipels met Sy Godheid beïndruk? Die blote suggestie is belaglikheid.

Die Leë Graf

’n Ander desperate poging om die Opstanding weg te redeneer, is die aanname dat hulle - Maria Magdalena, Petrus, Johannes, die ander vroue - almal na die verkeerde graf gegaan het. Op ’n manier het nóg die Fariseërs, nóg die Sadduseërs, nóg die Romeinse soldate óf Josef van Arimathea (wie se graf dit was) daaraan gedink om daarop te wys dat die liggaam nog steeds in die regte graf is nie! Hierdie teorie is egter net so vergesog, want die graf was nie in ’n begraafplaas nie, maar in ’n tuin wat in die privaat-besit van Josef van Arimathea was. Daar was geen ander graf in die tuin nie!

Die Afwesigheid Van Die Liggaam

Al wat die Romeinse en Joodse leiers moes doen om die Christendom te beëindig, was om ’n liggaam as bewysstuk na vore te bring. En hulle kon nie! Selfs toe die Apostel Petrus die dag met die uitstorting van die Heilige Gees opgestaan en verklaar het: “ Die hele Israel moet dus verseker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” Hand 2:36.

Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus...” Hand 4:33. Duisende in Jerusalem, insluitend baie Fariseërs, het daar tot geloof gekom.

Die Geloofwaardigheidskrisis

Dit was vir die Joodse godsdienstige leiers die grootste nagmerrie -’n ramp! Die belydenis van die Opstanding van Christus het dus hul mag en geloofwaardigeheid ondermyn. Duisende van hulle volgelinge het geglo dat hulle ’n onskuldige man - die Messias - ter dood veroordeel het. Die nuwe godsdiens het hul magsbasis ondermyn. Indien die liggaam van Jesus gevind sou kon word, sou die Christendom daar en dan tot ’n einde gekom het en die bedreiging wat dit vir die godsdienstige leiers ingehou het, sou beëindig wees. Omdat hulle die liggaam so dringend nodig gehad het om hul eie saak te bevorder, sou hulle alles in die stryd gewerp het om die liggaam te vind - indien dit hoegenaamd moontlik was.

Die Ooggetuies

Ons het egter nie net met die leë graf en die afwesigheid van die liggaam te doen nie, maar ook met die verslag van die ooggetuies. Op ten minste twaalf verskillende geleenthede is Jesus gesien nadat hy uit die dood opgestaan het. Maria Magdalena (Joh. 20:11-18); Mark. 16:9), die ander vroue (Mat. 28:8-10), Petrus (Luk. 24:34); die twee Emmaus-gangers (Luk. 24:13-35), tien dissipels (Luk. 24:36-43; Joh. 20:19-24); al elf dissipels agt dae na die opstanding (Joh. 20:24-29); sewe dissipels by die See van Tiberias (Joh. 21:1-23), tot 500 mense by geleentheid (1 Kor. 15:6), Jakobus (1 Kor. 15:7), aan al elf dissipels, en ander, tydens Hemelvaart (Hand 1:3-12), Paulus (Hand 9:3-8) en Johannes (Openb. 1:12-18) het almal die Here Jesus gesien nadat Hy opgestaan het.

Deur hierdie getuienis te probeer wegredeneer, probeer die vyande van die Christendom voorgee dat dit bloot hallusinasies, of dalk nog die gevolg van hipnose of histerie, was. Hallusinasies is unieke psigologiese ervarings van enkele individue, maar ons het hier te make met groot getalle mense wat op verskillende tye, in verskillende groepe en plekke, binne- sowel as buitenshuis, op pad en by ’n meer, die Here Jesus gesien het. Hulle het saam met Hom geëet, Sy wonde gesien en ook die wond aan Sy sy.

Sy dissipels was skepties en traag om te glo dat dit werklik Hy was. Thomas het selfs verklaar dat hy net sal glo, indien hy persoonlik sy vingers in Jesus se wonde aan Sy hande, voete en sy kon druk.

Veranderde Dissipels

Ons het méér as net die verslae van ooggetuies; ons het ook die dramatiese verandering in die lewens van die dissipels self, as bewys van die Opstanding. Jesus se Opstanding het hulle rou in vreugde verander. Hul lafhartigheid het in vrymoedigheid, en hul skeptisisme in geloof verander. Hulle was ook baie vasbeslote en doelgerig. Saulus, die vervolger van die Kerk, het in Paulus, die apostel van die Kerk, verander.

Dit het ook die gemeenskap en die geskiedenis verander. Dit het die Joodse Sabbat in die Christelike Dag van die Here verander. Die Opstanding het die Joodse oorblyfsel in die wêreldwye Christelike Kerk verander. Meer as 2 miljard mense wêreldwyd beskou hulself as Christene wat in die Opstanding van Jesus Christus glo. Die blote bestaan van hierdie grootste godsdiensbeweging in die geskiedenis van die wêreld, is nog ’n kragtige bewys van die Opstanding van Jesus.

Jesus het Self geprofeteer dat Hy uit die dood sou opstaan. En omdat hierdie profesie vervul is, kan ons absoluut seker wees dat Jesus Christus God met ons is, soos wat Hy gesê het. Ons kan dus weet dat ons sonde deur Sy bloed wat aan die Kruis op Golgota gevloei het, vergewe is.

Juis op grond van Sy dood aan die Kruis kan ons ons verheug - ons sonde is vergewe, ons is vrygespreek deur geloof. Op grond van Sy Opstanding uit die dood kan ons uitsien na die ewige lewe. Sy Hemelvaart verseker ons van die feit dat Hy oor al die gesag beskik en dat Hy Sy groot Opdrag op aarde uitgevoer het. Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag maak dit vir ons moontlik om nie meer op ons eie vermoëns staat te maak nie, maar op Sy krag alleen. “Nie met mag of krag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige.” Sag. 4:6.

Ons dien ’n Opgestane Heer en Redder! Die dood is oorwin. Christus het opgestaan - oorwinnaar oor die dood, hel, satan en die graf. Hy is die Opstanding en die Lewe! (Joh. 11:25).

Alle eer aan God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy Sy liefde aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus uit die dood opgestaan het.” 1 Pet. 1:3.

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.