Home
DIE MEES INVLOEDRYKE MENS WAT OOIT GELEEF HET PDF Print E-mail

"Hy is in ’n klein obskure dorpie gebore, die kind van ’n vrou uit ’n beskeie agtergrond.

Hy het in ’n ander dorp groot geword waar Hy in ’n timmermanswinkel gewerk het totdat Hy 30 jaar oud was.

Toe was Hy vir drie jaar lank die rondreisende prediker.

Hy het nooit ’n boek geskryf nie.

Hy het nooit ’n titel beklee nie.

Hy het nooit ’n gesin of ’n huis gehad nie.

Hy was nie op universiteit nie.

Hy het nooit ’n groot stad besoek nie.

Hy het nooit enige van die dinge gedoen wat met ’grootheid’ geassosieer word nie.

Hy het geen getuigskrifte gehad nie - net Homself. Hy was net 33 toe die openbare opinie teen Hom gedraai het.

Sy vriende het weggehardloop.

Een het selfs ontken dat hy Hom ken.

Hy is aan Sy vyande oorgegee en moes die bespotting van die skares verduur totdat Hy verhoor is.

Hy is tussen twee diewe gekruisig.

Terwyl Hy op sterwe was, het hulle oor Sy klere gedobbel - Sy enigste eiendom op aarde.

Toe Hy dood is, is Hy in ’n geleende graf begrawe deur die jammerhartigheid van ’n vriend.

Negentien eeue het gekom en gegaan en vandag is Hy die sentrale figuur van die mensdom.

Al die weermagte wat al ooit opgeruk het, al die vlote wat al ooit geseil het, al die regerings wat al ooit geheers het, al die konings wat al ooit mag gehad het, het gesamentlik nóóit die lewe van die mens op aarde só beïnvloed soos hierdie een afgesonderde lewe nie."

(Vrylik vertaal uit: ’One Solitary Life’ —Dr. James Allen Francis, 1926.)

Daar is geen twyfel dat Jesus die mees invloedryke mens is wat ooit in die geskiedenis van die mensdom geleef het nie. Hy het eenvoudig die wêreld vir altyd verander.

 

Toe Hy gebore is, het Hy selfs die manier waarop tyd aangedui word, verander. Hy het die vloei van die rivier van die tyd verander en die eeue uit hul skarniere gelig. Sy verjaarsdag, Sy menswording het die tyd aangeraak en vir altyd verander. Die hele wêreld meet tyd nou in Voor Christus (vC) en Ná Christus (nC). Jesus Christus is die sentrale figuur in die geskiedenis. Daar is meer boeke oor Jesus Christus geskryf as oor enige ander mens in die ganse geskiedenis.

 

Die Invloed van Jesus

Die wêreld voor Christus was ’n wêreld sonder hospitale, sonder liefdadigheid, ’n wêreld sonder respek vir die heiligheid van die lewe. Hospitale is deur Christene begin; daarom is die kruis die simbool wat hospitale verteenwoordig.

 

Die verpleegprofessie is deur Christene, soos Florence Nightingale, in die lewe geroep, uit toewyding aan Christus.

 

Een van die geskiedenis se grootste humanitêre bewegings, die Internasionale Rooi Kruis, is deur Christene begin in reaksie op die Opdrag in die Skrif om na die siekes om te sien. Christene, soos dr. Louis Pasteur, het van die belangrikste praktiese ontwikkelings in die mediese wetenskap aangevuur.

 

Pasteur het waarskynlik deur sy uitvindings meer lewens gered, as enige ander individu in die geskiedenis van die mens. Die hele liefdadigheidskonsep was ’n Christen innovasie. Welwillendheid aan totale vreemdelinge was geheel en al onbekend voor Christus.

 

Die lering en voorbeeld van Jesus Christus het die grootste vrygewigheid, gasvryheid, selfopoffering en armsorg oor die afgelope 2,000 jaar tot gevolg gehad.

 

Voor die ontstaan van die Christendom het kulture slawerny bedryf en menseoffers gebring - selfs die hoogsaangeskrewe Griekse- en Romeinse beskawings. Kinderoffers was baie algemeen onder die heidense gelowe.

 

Die Asteke van Mexiko en die Inkas van Peru het slawerny-, verkragtings- en massa-menseoffers-rituele beoefen. Voor die aankoms van die sendeling William Carey in Indië, was dit algemene praktyk in Hindoe-Indië om weduwees op lykbrandstapels saam met hulle mans te verbrand.

 

Slawerny is uitgeroei deur die onvermoeide pogings van Christene soos William Wilberforce en David Livingstone.

 

Respek vir die lewe en vryheid is die vrug van die Christendom. Diegene wat ten gunste is van aborsie, genadedood en pornografie, offer geen vordering nie, maar bepleit eintlik ’n terugkeer na die voor-Christen-heidendom. Die positiewe en lewensveranderende impak van Jesus Christus op die wêreld kan nie oorbeklemtoon word nie.

 

Herinneringe aan Jesus

Alles - van onderwys tot menseregte, van openbare gesondheid tot ekonomiese vryheid - dié dinge wat ons koester, en vele ander seëninge wat ons as vanselfsprekend aanvaar - kan teruggevoer word na die geestelike en kulturele revolusie wat deur Jesus Christus bewerkstellig is.

 

Dit is ’n onweerlegbare feit dat die Christendom geboorte gegee het aan die moderne wetenskap. Die wetenskaplike revolusie het met die Protestantse Hervorming begin en die Bybel het ’n baie belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van wetenskaplike ontdekkings. Elke belangrike vertakking van die wetenskap is deur ’n Bybelgelowige Christen ontwikkel. Die Bybel het inderwaarheid die wetenskap geskep. Wanneer ons in ’n motor klim, die sleutel draai, die ligte aanskakel, na die hospitaal ry, verdowing voor ’n operasie ontvang en ’n geslaagde operasie op ons uitgevoer word in ’n kiemvrye omgewing; dan moet ons onthou dat ons dit alles aan Jesus Christus te danke het.

 

"Every school you see – public or private, religious or secular – is a visible reminder of the religion of Jesus Christ. So is every college and university" Dr. James Kennedy.

 

Die fenomeen van onderwys vir die massas het ook sy ontstaan in die Christendom. Die strewe na in-diepte kennis van God op ’n sistematiese en filosofiese vlak het tot die ontstaan van universiteite regoor die wêreld gelei. Dit was dus die Christelike geloof wat tot die hele idee van Hoër Onderwys gelei het. Die meeste van die wêreldtale is vir die eerste keer deur sendelinge op skrif gestel. Die eerste boek in die meeste tale was die Bybel.

 

Die Christendom is die grootste dryfkrag ter ondersteuning van wêreldwye geletterdheid in die geskiedenis.

 

Die Christen-sendingbeweging van die 19de eeu was die pionier vir talle skole in Afrika, Asië en die Suidsee-eilande. Onderwys is sodoende aan tienduisende mense verskaf, selfs in die mees afgeleë oerwoude. Op dié manier het baie stamme wat nooit vantevore ’n geskrewe taal gehad het nie, die geskenk van geletterdheid ontvang.

 

Daar is geen twyfel dat Jesus Christus die grootste Leermeester van alle tye was nie. Van Hom word gesê: "En hulle was verslae oor Sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie" Markus 1:22. Die lewe, onderrig en voorbeeld van Jesus Christus het ’n diepgaande invloed op die hele wêreld gehad, asook die ontwikkeling van onderwys wêreldwyd. Die Groot Opdrag van ons Here Jesus was: "Gaan dan... maak dissipels van al die nasies... leer hulle..."     Matthéüs 28:19, 20

 

Christenerfenis

Van die begin af het Christene skole opgerig. Een van die vele nuwighede van Christen-opvoeding was dat hierdie Christenskole álmal onderrig het, insluitende vroue en meisies. Om aan albei geslagte onderrig te gee, was die breinkind van Christen-onderwys. Die Grieke en Romeine het voor Christus se geboorte glad nie formele onderrig aan vroue en meisies gegee nie. Slegs seuns van ‘n bevoorregte agtergrond het toegang tot onderrig gehad.

 

Die Christendom het ’n revolusie bewerkstellig deur onderwysopleiding aan alle klasse en alle geslagte toeganklik te maak. Augustinus het opgemerk dat Christenvroue beter opgevoed was as heidense manlike filosowe.

 

Die pionierswerk vir elke vertakking en vlak van opvoeding is deur Bybelgelowige Christene bewerkstellig. Die hele idee van grade en vlakke in die opvoeding is deur Johan Sturm, ’n Duits-Lutherse Christen in die 16de eeu bekendgestel. Kindertuinonderrig, is deur Friederick Froebel, nog ’n Lutheraan, bekendgestel. Onderrig vir dowes is ook ’n Christen-konsep.

Voor Jesus Christus was menselewe in die Griekse en Romeinse wêreld ontsettend goedkoop. Babas wat met fisiese defekte soos blindheid gebore is, is eenvoudig weggegooi om in die wildernis dood te gaan. In Griekeland is blinde babas in die see gegooi. Diegene wat eers later blind geword het, het galeislawe geword, en dit was algemeen dat blinde meisies, opgedra was aan ’n lewe van prostitusie.

Jesus Christus het besondere meelewing met die blindes gehad en het vele blindes gedurende Sy tyd op aarde genees.

 

Toe die Romeinse vervolging van die Kerk in die vierde eeu beëindig is, het Christene tehuise vir blindes opgerig. In die 19de eeu het Louis Braille, ’n toegewyde Christen wat sy sig op driejarige ouderdom verloor het, die eerste alfabet ontwikkel wat blindes in staat gestel het om met hulle vingers te kon lees.

 

Christenonderwys

Sondagskole is in 1780 deur Robert Raikes begin om seuns sowel as dogters uit die armste huise met geletterdheid en die rykdom van die Skrif te bemagtig. Die eerste universiteite het ontstaan uit die klooster-sendingsentrums wat die hele Europa bedien het. Die eerste universiteitsdosente was die monnike wat boeke versamel het, biblioteke opgebou het, manuskripte gekopieer het en op unieke wyse toegerus was vir gevorderde akademiese studie. Die meeste universiteite het as Christenskole begin. Laasgenoemde sluit Harvard, Yale, Princeton, Oxford, Cambridge, Heidelberg en Basel in. Die grootste ontdekking op akademiese gebied was beslis Johannes Gutenberg se uitvinding van die drukpers - ook ’n vrug van die Christendom. Die eerste boek wat ooit gedruk is, was die Bybel.

 

Alledaagse Woorde

Die naam ’universiteit’ getuig opsig self van Christelike oorsprong. Universiteit beteken ’Een Waarheid’. Is dit dan nie nodig dat onderwysers, dosente en professore vir ’n slag in diepte kyk na die mees invloedryke Leermeester ooit, die belangrikste Boek ooit, en die geloof wat elke belangrike vertakking van onderwys en wetenskap geinspireer het nie? Dink net bietjie oor die alledaagse dinge wat deur die Bybel geïnspireer is. Die woord ’breakfast’ kom van die konsep om die vas te ’breek’.

 

Die woord ’restaurant’ kom van Jesus se belofte in Matthéüs 11:28: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee."

 

Die eerste restaurant wat in 1766 in Parys geopen is het dié woorde van uit Matteus in groot vet letters buite hierdie eerste publieke vestiging geplaas, waar maaltye in ’n aangename omgewing geniet kon word.

 

Die feit dat ons week uit sewe dae bestaan, getuig dat God die aarde in ses dae geskape het en dat Hy die sewende dag gerus het. Die hele idee van Sondag wat ’n rusdag is, gaan terug na die Christen-tradisie wat die eerste dag van die week as rusdag vier, omdat dit die dag is waarop die Here uit die graf en die dood opgestaan het.

 

Elke keer wat ’n koerant die datum publiseer, is dit eintlik ’n getuienis van die sentrale plek wat Christus in alles ingeneem het. Ons lewe nou in die 20ste eeu - meer as 2000 jaar NC. - ná Sy geboorte. Die woord ’goodbye’ kom eintlik van die afskeidsgebed: ’God be with ye.’ En die woord ’holiday’ is afgelei van die woorde ’holy day’. Die Bybel, veral die Tien Gebooie, het die raamwerk en wetlike grondslag gelê vir die   Westerse beskawing.

 

Die heel eerste gepubliseerde wetgewing van die regering, die Magna Carta is in 1215 was deur ’n pastoor geskryf. Skrifverwysings was volop in hierdie dokument.

 

Respek vir die Lewe

Die Bybel was die inspirasie vir die grootste literatuur, kuns, argitektuur, verkennings, wêreld- sendings, die reg, die verdeling van mag, wigte en teenwigte, die verteenwoordiging van ‘n regering, die heiligheid van lewe en soveel ander dinge wat ons net bloot as vanselfsprekend aanvaar.

 

Die Christendom het die "respek vir lewe" en vryheid daargestel wat geheel en al onbekend was voor die koms van   Christus.

 

In die antieke wêreld het die lering van Jesus Christus ’n einde gemaak aan babamoord, vroue vrygemaak, slawerny beëindig, liefdadigheids- en godsdiensorganisasies geïnspireer, hospitale opgerig, weeshuise opgerig en skole opgerig. In die Middeleeue het die Christendom biblioteke gebou, kolleges en universiteite in die lewe geroep, sowel as barbare tot bekering gebring. In die Moderne Era het Christen-onderrig die wetenskap bevorder, politiese, sosiale en ekonomiese vryheid bevorder, geregtigheid aangemoedig en die grootste inspirasie verskaf vir die mees briljante prestasies in kuns, argitektuur, musiek en literatuur.

 

Die Christendom is die kragtigste instrument wat die samelewing oor die afgelope 2000 jaar ten goede verander en beïnvloed het. Geen ander geloof, filosofie, lering, nasie of beweging het die wêreld só positief verander soos wat die Christendom gedoen het nie. Jesus Christus is die uitsonderlikste Mens wat ooit geleef het en die Bybel is die belangrikste Boek wat ooit geskryf is.

 

Die Bybel is die nommer een verkoper van alle tye. Daar word bereken dat meer as 30 miljoen Bybels en 100 miljoen Nuwe Testament-Bybelboeke elke jaar gedruk word. Die Bybel is ook in meer tale vertaal as enige ander boek in die geskiedenis.

 

Hy word nogsteeds deur wyse manne nagestreef.

Hy het soos een van ons geword - sodat ons soos Hy mag word.

Hy was verwerp - sodat ons aanvaar mag word.

Hy was veroordeel – sodat ons vergewe mag word.

Hy was gestraf - sodat ons verskoon mag word.

Hy het gely - sodat ons versterk mag word.

Hy was gegesel – sodat ons genees kan word.

Hy was gehaat - sodat ons geliefd mag wees.

Hy was gekruisig - sodat ons geregverdig mag word.

Hy was gemartel - sodat ons vertroos mag word.

Hy het gesterf - sodat ons mag lewe.

Hy het ter helle neergedaal - sodat ons hemel toe mag gaan.

Hy het verduur wat ons verdien - sodat ons mag geniet wat slegs Hy verdien.

 

Daar is één afspraak wat nie een van ons sal kan vermy nie. Ons sal nie eens laat kan wees vir hierdie afspraak nie: "En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel." Hebreërs 9:27

 

Ons weet nie wanneer, of onder watter omstandighede ons lewens tot ’n einde sal kom nie. Ons weet wel dat wanneer ons omkom, ons voor die Almagtige God sal verskyn - ons Skepper en ewige Regter. Ons sal dan verantwoording moet doen aan Hom oor die lewe wat ons geleef het.

 

"Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad." 2 Korinthiërs 5:10

 

"Net een lewe; dit sal vinnig verby wees - Net wat vir Christus gedoen is, sal vir ewig wees." - C. T. Studd

 

Ons moet ons prioriteite orden in die lig van die ewigheid. Ons moet ons tyd, talente en skatte belê in dié dinge wat vir ewig sal bestaan: die mense van God, die Woord van God en die Koninkryk van God. Dit is wat waarlik belangrik is in die lewe.

 

"Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word." Matthéüs 6:33

 

In die lig van die ewigheid, met die wete dat jy voor die Skepper en ewige Regter gaan staan, is dit nodig dat jy jou lewenstaak hersien en herrangskik, asook jou familie-verhoudinge, gewoontes en aktiwiteite.

 

Dink net: Op daardie Dag wanneer jy voor die regterstoel van Christus staan om van jou lewe rekenskap te gee, glo jy werklik dat enigiemand dan sal dink: Ek moes meer TV gekyk het! Ek was te vrygewig! Ek moes langer aan daardie wrok vasgeklou het! Ek was te gelowig! Ek het te veel tyd gespandeer aan die Bybel en in gebed! Ek was te evangelies! Ek het te veel opgegee vir die Koninkryk van God!?

 

Ernstiglik – In die ewigheid – Sal enigeen van ons daaroor spyt wees dat ons baie gebid het? Baie die Bybel bestudeer het? Baie vergewensgesind was? Baie vrygewig was? Baie opgegee het vir God se Koninkryk? As jy weet dat jy volgende jaar gaan sterf, wat sal jy hierdie jaar anders doen? Dis nodig om ons prioriteite te orden in die lig van die ewigheid.

 

Wat sal jy antwoord as ek vir jou vra: Wat is die grootste sonde wat enigiemand kan doen? Sou jy sê: Moord? Afgodsdiens? Egbreek? Perversiteit? Haat? - Of die ydele gebruik van God se Naam?

As ek vir jou moes vra: Wat is die grootste begeerte en prioriteit in jou lewe? Waaraan sal jy dink?: Akademiese prestasie? ’n Bevordering? ’n Huwelik? Politiese bevordering? Sukses in jou besigheid? Geld? Beroep? Of evangelisasie?

 

Toe Jesus Christus gevra was wat die grootste gebod is, het Hy geantwoord:

 

"En jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag... die tweede... is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie." Markus 12:30-31

 

Dit is mos duidelik - die grootste sonde is om te versuim om God met jou hele hart lief te hê. Om God nie lief te hê nie, is die sonde wat oorsprong gee aan alle ander sondes. Jy kan nie jou naaste waarlik liefhê, tensy God jou eerste liefde is nie. Die Bybel maak dit duidelik dat dit die rede is waarom ons versuim om te doen wat goed is (Matthéüs 25:41-46).

 

"Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde." Jakobus 4:17

 

Wat maak werklik saak? Om God te ken en om Hom bekend te maak. Om die Woord van God te ken en om die God van die Woord te ken. Ons grootste prioriteit is om God lief te hê bo enige iets en enige iemand. Dit is wat werklik saak maak.

 

Daar is drie maniere om Jesus Christus te verwerp:

Blatant - soos Ateïsme, wat die bestaan van God ontken en Hom openlik verwerp.

Deur ongevoeligheid - die waarheid te ken, maar nie genoeg om te gee om iets daaromtrent te doen nie.

Deur te talm - die waarheid te ken, oortuig te wees, om te gee, maar nie by die punt kom waar die besluit geneem word nie.

 

‘n Kopkennis van die waarheid van die Evangelie is nie genoeg nie. Ons moet dit van harte glo. Dit is nie genoeg om van God te weet nie, ons moet Hom persoonlik ken. Ons moet ’n persoonlike verhouding met Hom hê. Ons moet Christus vertrou, Hom liefhê, Hom volg en Hom gehoorsaam.

 

Ons Here Jesus Christus het beveel dat Sy dissipels die Evangelie van bekering en vergifnis van sonde aan alle nasies moet verkondig. Bybelse bekering is méér as net jammer voel oor jou sonde. Soms is ons net jammer omdat ons uitgevang is. Dit is nie bekering nie, maar eerder selfverwyt.

 

Bybelse bekering behels:

-           Sonde besef en oortuiging - ’n verandering

van denke;

-           Hartsoortuiging - ’n hartsverandering;

-           Inkeer - ’n lewensverandering.

 

Ons moet reageer op die Evangelie van Christus deur bekering en geloof. "Vertrou en wees gehoorsaam, daar is geen ander manier om in Jesus gelukkig te wees as om te vertrou en gehoorsaam te wees nie."

 

Jy wil nie net tevrede wees deur die waarheid in jou kop te ken, en te versuim om daarop te reageer met vertroue en gehoorsaamheid in jou hart nie.   Jesus Christus het na hierdie wêreld gekom om vir ons sonde te sterf. Ons moet daarop reageer met bekering en geloof. Ons benodig ’n verandering van denke, ’n hartsverandering en ’n lewensverandering. Dit is presies waaroor Bybelse bekering gaan.

 

Wil jy een van daardie wyse manne wees wat God nastreef?

 

"En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie." Handelinge 4:1

 

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.