Home
God, Die Regering en die 10 Gebooies PDF Print E-mail

Toe professor John Wycliffe van Oxford Universiteit die eerste handgeskrewe vertaling van die Nuwe Testament in Engels (in die 14de Eeu) die lig laat sien het, het hy in die voorwoord geskryf: "Die Bybel is gegee vir die regering ván die mense, déúr die mense en vír die mense."

 

Die Amerikaanse president, Abraham Lincoln, het Wycliffe aangehaal toe hy sy beroemde Gettysburg-toespraak gelewer het. Hy het gesê: "Die regering van die mense, deur die mense en vir die mense sal nie van die aardbodem af verdwyn nie." Lincoln het verder gesê: "Die filosofie van die klaskamer sal die filosofie van die regering in die volgende geslag word."

 

Baie mense verkeer onder die illusie dat die Bybel absoluut niks te sê het oor enige van die sosiale strukture, konstitusionele modelle of politieke sake nie. Ongeveer 29% van die Bybel handel egter oor geestelike sake en ons persoonlike lewens en 71% handel oor sosiale-, politieke- en nasionale kwessies.

 

Ons Here Jesus Christus het baie belangrike geestelike beginsels en konsepte voorgehou, wat elke deel van die sosiale en politieke lewe affekteer het. Jesus het vir die Romeinse Pontius Pilatus gesê: "U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde" Johannes 19:11. Burgerlike gesag is baie duidelik gedelegeer deur - en verantwoordbaar aan God.

 

Die Bybel is baie uitgesproke oor die feit dat God regerings ingestel het onder Sy gesag: "…want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede..." Romeine. 13:4. Die regering is dus geroep om God se reg toe te pas: "…om wel kwaaddoeners te straf…" 1 Petrus 2:14.

 

Beskerming is Primêr

Die primêre taak en verantwoordelikheid van ’n regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van diegene wat die wet oortree. Psalm 101 herinner ons daaraan dat die taak van Godvererende regeerders is om boosdoeners te straf, boosheid uit te roei en die wetsgehoorsame burgers te beskerm.

 

Jesus het ons geleer: "Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom" Matthéüs 22:21. Die regering het sekere gemagtigde regte en verantwoordelikhede, maar dit is grootliks beperk. Ons moet ons belasting betaal (maar belasting wat so hoog is as selfs 10%, was veroordeel as "onderdrukkend" - 1 Samuel 8:10-18); militêre diens verrig, indien dit vereis word; as getuies in die hof getuig as daar misdaad gepleeg is; en ons moet die lewe, eiendom en reputasie van ons bure respekteer. Alhoewel, die aanbidding van God, opvoeding van ons kinders, ons privaat-eiendom, ons individuele ondernemings en persoonlike menings (aanbiddingsvryheid, onderwysvryheid, vryemarkstelsel en vryheid van spraak) is duidelik nie gemaak in die beeld van Caesar nie en , en val buite die jurisdiksie van ’n Bybelgefundeerde konstitusionele staat.

 

Ons Here het die gesag van die morele, sosiale, ekonomiese en politieke Wette van God, soos ons dit in die Ou Testament vind, gehandhaaf: "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele"       Matthéüs 5:17-19

 

In Sy openbare onderrig het Jesus die Ou Testamentiese Wette teen moord, diefstal en egbreuk (Matthéüs 5:21-28) bevestig; asook dié wat handel oor oneerbiedigheid teenoor ouers (Matthéüs 15:4) en meineed (Matthéüs 19:18). Jesus het ook die reg op privaatbesit van eiendom en die vryemarkstelsel en winsneming benadruk (Lukas 16:11; 19:12-27; Matthéüs 20:1-15; 25:14-30).

 

Magshebbers Ook Dienaars

Ons Here het benadruk dat siviele magshebbers ook openbare dienaars behoort te wees (Matthéüs 20:25-28): "Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie." Kyk ook in hierdie verband na Lukas 22:25 -26.

 

Dit is juis om hierdie rede dat amptenare in siviele regerings "ministers" en "dienaars" genoem word. Die hele konsep dat ’n siviele regering die dienaar van sy inwoners is ’n unieke Christelike idee wat in hierdie verse ontstaan het. Die term "Eerste Minister" het hieruit ontstaan - as die eerste dienaar.

 

Terwyl die meeste groepe vandag eksterne oplossings vir ons vele sosiale probleme verkondig - redding deur politiek of deur veranderde sosiale strukture en wette - beklemtoon die onderrig van Christus vir die nodigheid van innerlike verandering, dit wil sê jou hart en verstand moet nuut word. Matthéüs 15:19: "Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal."

 

Ware Vryheid

Ware vryheid kom van binne af. Die fondament vir ’n ware vry en vooruitstrewende nasie kan net gevind word in die karakter, verstand en die lewens van mense wat deur God se Genade verander is. Om suksesvol te wees, moet ’n gemeenskap bestaan uit eerlike inwoners wat nie sal steel nie, hardwerkend en pligsgetrou is, medelydende gesinne wat omgee vir hul bure, verantwoordelike werkers wat hul plig sal nakom en getroue rentmeesters van openbare bronne. Volke se krag hang af van die krag van die gesinne van daardie volk. Regerings is net so goed soos die inwoners van ‘n land. Die wat hulself nie kan beheer nie, kan beslis nie ’n stad regeer nie (Spreuke 16:32). Die wat nie hul eie huishouding kan bestuur nie, is ook nie in staat om ander te lei nie (1 Timótheüs 3:4-5).

 

God het VIER SFERE van regering ingestel:

Selfregering: Gesimboliseer deur ons gewete.

Gesinsregering: Gesimboliseer deur die staf van dissipline.

Kerkregering: Gesimboliseer deur die sleutels van kerkdissipline.

Sivieleregering: Gesimboliseer deur die swaard van die reg.

 

God het ook in die Israelitiese regering, tien sleutelbeginsels van vryheid, vasgestel:

 

‘n Geskrewe grondwet (verbond), gebaseer op God se Woord, wat die mag van die regering baie duidelik definieer en beperk.

‘n Skeiding van die mag en funksies in die siviele regering, in drie verskillende vertakkings:

Uitvoerend (die koning of die regter),

Wetgewend (die Raad en Sanhedrin),

Geregtelik (die ouderling of regters in elke gemeenskap).

Hierdie drie vertakkings van die regering is gebaseer op hoe die Here Sy Regering openbaar het – Jesaja 9:6,7. Jesaja 33:22 sê ook: "Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning: Hy sal ons verlos."

‘n Onafhanklike regstelsel en die reg op ’n regverdige verhoor (2 Kronieke 19:5-7). In Deuteronómium 19:15-19 word die beginsels van ’n regverdige verhoor soos volg uitgespel:

jy is onskuldig totdat jy skuldig bevind word, getuies moet die beskuldigde persoonlik konfronteer, ‘n saak moet ingestel word deur twee of drie getuies,

regters moet onpartydig wees.

 

‘n Nasionale wetgewer (wetmakende instelling) waar die een huis bestaan uit verteenwoordigende regters of amptenare wat deur die mense verkies is (Deuteronómium 1:13-17). "Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien…" Exodus 18:21

 

‘n Tweede huis in die wetgewer, wat bestaan uit twee ouderlinge wat afstam uit elk van die elf stamme (of geografiese gebiede) van Israel, saam met die 24 priesters uit die stam van Levi en twee skrifgeleerdes uit elk van die 12 stamme. Dit het dan die Sanhedrin gevorm.

‘n Uitvoerende beampte (regter of koning) wat onder die leiding van God gekies is en wat die goedkeuring van die ouderlinge geniet (Deuteronómium 17:14-20; 1 Kronieke 11:3).

‘n Gedesentraliseerde staat, waar die meeste verantwoordelikhede en mag op die plaaslike regering, die familie en die individu rus. (Sentralisering van mag in ’n unitêre staat was nog altyd ’n heidense tendens - soos in Nineve, Egipte en Babilon). Dit is wys om die mag van die siviele regering in ’n sisteem van wigte en teenwigte te verdeel, omdat mag lei na verval. (Exodus 24:1; Deuteronómium 1:13-17; Handelinge 17:26).

‘n Weermag, wat bestaan uit opgeleide inwoners wat die reg en plig het om die wapen op te neem ter verdediging van hul huise, families, gemeenskap en nasie (Númeri 1:2-3; Rigters 3:2; Deuteronómium 20:1-4,9).

‘n Vrye mark-ekonomie, gebaseer op privaat-besit van eiendom en individuele vrye ondernemings. Enige belasting wat hoër as 10% was, is as onderdrukkend beskou, en enige eiendomsbelasting of erfenisbelasting is verbied. Instellings en individue wat in voltydse bediening betrokke was, kon nie belas word nie. Die Bybelse ekonomie het ook valse mate (inflasie) en gewigte (valuta) verbied (Exodus 20:15,17; Deuteronómium 19:14; Spreuke 10: 2-4; 1 Thessalonicense 3:10; 1 Samuel 8: 10-18; 1 Konings 21:3).

‘n Onderwysprogram, wat deur ouers met die hulp van die Kerk bedryf word - onafhanklik van die regering. (Deuteronómium 6:7; Esra 7:23,24; Matthéüs 28:19; Efésiërs 6:4; Kolossense 2:8).

 

Fondament van Al Ons Regte

Die Tien Gebooie is nie slegs die fondament vir sosiale orde nie, maar dit is ook die fondament van al ons ander regte. Elke gebod handel oor ’n spesifieke area: God, aanbidding, spraak, tyd, gesag, lewe, liefde, eiendom, waarheid en die gewete.

 

Die Tien Gebooie dek ons verantwoordelikheid teenoor God, teenoor ons ouers en ook teenoor ander mense. Gehoorsaamheid aan hierdie Gebooie het respek vir God, mense en eiendom tot gevolg."Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel..." Psalm 19:8

 

Elke Gebod bevat ’n verbod, bv. "Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie…" verbied veelgodery en ateïsme. Elke Gebod impliseer egter ook ’n reg. Die Eerste Gebod impliseer tog vryheid van aanbidding.

 

Wanneer die Derde Gebod godslastering, vals profesieë en goddeloosheid verbied en wanneer die Negende Gebod meineed, skinder of laster verbied, is dit die enigste beperkings wat daar op spraak gelê word. Buiten hierdie beperkings is daar vryheid van spraak.

 

Behalwe om afgodsdiens in die Tweede Gebod te verbied, en gierigheid en selfsug in die Tiende Gebod, het ons vryheid van gewete.

 

Die Sesde Gebod verbied moord, selfmoord, aborsie en genadedood; dus verskans dit die reg op lewe. Die Sewende Gebod verbied ontug en perversie - dit verskans dus die heiligheid van die huwelik. Net so ook die Agtste Gebod wat bedrog en diefstal verbied - dit verskans die reg op privaat besit van eiendom.

 

Die Tien Gebooie is die fondament van al die volgende regte:

 

1.         vryheid van aanbidding;

2.         die reg om God se Wil te ken en dit te doen;

3.         vryheid van spraak;

4.         die reg om te werk en te rus;

5.         respek vir gesag;

6.         die reg op lewe;

7.         die heiligheid van die huwelik;

8.         privaat eiendomsbesit;

9.         die reg om teen laster beskerm te word;

10.       vryheid van gewete.

 

Die Bybel definieer sonde as "wetteloosheid" (1 Johannes 3:4).

 

Jesus het gesê: "As julle My liefhet, bewaar my gebooie" Johannes 14:15.

 

Amos 5: 15, 24: "Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom."

 

George Washington het gesê: "Godsdiens en moraliteit is onmisbaar vir enige goeie regering."

 

"Hy weet nie hoe om ‘n koninkryk te regeer as hy nie ‘n provinsie kan bestuur nie; nog minder kan hy ‘n provinsie swaai as hy nie ‘n stad kan kommandeer nie, as hy nie weet hoe om ‘n dorp te reguleer nie, sal hy nog minder ‘n familie kan lei; nog minder kan daardie man ‘n familie goed beheer as hy nie weet hoe om homself te beheer nie; nogtans kan niemand homself beheer tensy sy rede die Here is nie, en sy wil en eetlus sy slaaf; nog minder kan redenasie regeer tensy dit self deur God regeer word en heeltemal gehoorsaam is aan Hom." Hugo Grotius

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.