Home
ANDREW MURRAY en die 1860 HERLEWING PDF Print E-mail

Christene dwarsoor Suid-Afrika het in 2010 die 150ste jaar van die merkwaardige herlewing in die Kaap herdenk. Geen mens kan egter van hierdie herlewing praat, sonder om die reuse rol wat Andrew Murray daarin gespeel het, te erken nie.

 

‘n Geestelike Wildernis

Die Kaapkolonie was voor 1860 ’n geestelike wildernis. Die Hollandse Oos-Indiese Kompanjé (HOK) het die aanstelling van predikante en die vestiging van gemeentes aan die Kaap beheer. Maar in die eerste 150 jaar van die Hollandse regering aan die Kaap, is daar slegs vyf gemeentes gevestig - almal binne ’n 130km radius vanaf Kaapstad. Die meeste plaas- en trekboere het geen toegang tot pastorale leiding of kerkdienste gehad nie.

 

Veel erger egter, was die feit dat baie min mense in die Kaap op daardie stadium nog Hollands as taal gebruik het, en tog het die regering nie hulle spreektaal, Afrikaans, waardig genoeg geag om kerkdienste, preke of selfs persoonlike godsdiens daarin toe te laat nie. Dit het tot gevolg gehad dat kerkdienste baie geforseerd was, en die gemiddelde kerkbywoner kon skaars verstaan wat in Hooghollands van die preekstoel af gesê is. Hulle kon ook nie met gemak bid nie. Die enigste beskikbare Bybel was Hollands, en meeste mense het gesukkel om dit te lees. Sonder die vermoë om vrylik vanuit die hart te bid, het meeste mense maar oorgegaan om gevestigde formules, van afgesaagde uitdrukkings, te volg.

 

Geestelike Verlamming Tree In

Dit is dus geen verrassing dat daar ’n omvangryke geestelike verlamming ingetree het nie. Nicolaas Hofmeyr was raadop met die gebrek aan reaksie van sy gemeente in Calvinia. Hy kon in die ses jaar wat hy daar was, nie een enkele lidmaat kry om die gebedsbyeenkoms by te woon nie. Hy het ook ’n intense weerstand teenoor sendingwerk ervaar.

 

Vernietigende Liberalisme

Gottlieb van der Lingen se ouers was Hollandse sendelinge. Sy pa was die kapelaan van die Kaapse Korps. Hyself het Teologie aan die universiteit in Utrecht gestudeer. In sy eerste diens in die Grootte Kerk in Kaapstad het hy teen die opkoms van liberalisme gewaarsku en die mense opgeroep om weer na die Bybel, as die enigste Woord van God, terug te keer. Hy was ook ‘n voorstander van Christelike skole, maar hy was uiters teleurgesteld dat geen kerk op sy aanbod, om hulp om Christelike onderwys in hulle area te vestig, gereageer het nie.

 

Die Taalgrens

Die Britte het in 1795 in die Kaap geland en het met ’n baie omvattende beleid gekom dat alles in Engels moet geskied. Geen Afrikaanse skole was beskikbaar nie, en kerke mag nie Afrikaans in hul eredienste gebruik het nie. Hierdie beleid was die vonk vir die ongelooflikste Geestelike Herlewing ooit - wat hierdie probleem uit die weggeruim en Afrikaans as Nasionale Taal gevestig het.

 

Inspirasie Uit Skotland

As gevolg daarvan dat die Britte Hollands uit die skole en die regering verban het, is die gemeentes na Skotland verwys om predikante te bekom. Die aankoms van 11 gereformeerde predikante uit Skotland, gelei deur Andrew Murray Senior, het ’n hele nuwe era ingelui. Andrew Murray Senior is na die gemeente in Graaff Reinet gestuur, en is op 9 Mei 1828 met Maria Stegmann getroud. Wat die Britse regering egter nie verwag het nie, was dat die Skotse Predikers Hollands, sowel as Afrikaans sou aanleer, en in plaas daarvan om die Kaapkolonie te verengels, het God hulle kragtig gebruik om die gemeenskap se geloof en kultuur te versterk.

 

Bid vir Herlewing

Andrew Murray (jnr.) se pa het vir 36 jaar lank elke oggend, sonder uitsondering, vir herlewing gebid. Toe Andrew 10 jaar oud was, is hy vir skoolopleiding Skotland toe gestuur en hy het vir 7 jaar by sy oom, ds. John Murray, in Aberdeen gebly. Hier het hy in aanraking gekom met van die kragtigste Hervormingspredikers, onder andere Dr. Chalmers en William Burns. Nadat Andrew en sy broer John, hul MA-grade in 1845 behaal het, is albei na Utrecht vir teologiese studies, asook om Hollands ten volle te bemeester.

 

Voortrekker-Predikant

Toe Andrew ná sy studies na die Kaap terugkeer, was hy slegs 20 jaar oud. Kerkwette van daardie tyd het bepaal dat enige predikant 22 jaar oud moet wees, voordat ’n gemeente aan hom toevertrou kon word. Sir Harry Smith, die goewerneur, het hierdie reël ietwat gebuig en Andrew toegelaat om die Voortrekkers wat tussen die Oranje- en Vaalrivier was, te evangeliseer. In dié gebied was daar ongeveer 12 000 Voortrekkers wat, sedert hulle die Kaap verlaat het, sonder die dienste van ’n predikant moes klaarkom.

 

Sendingreise

Murray was die eerste predikant van die Voortrekkers, en sy hoofkwartier was in Bloemfontein. Hy moes egter voortdurend reis om by almal in sy groot gemeente uit te kom. Hy het ook vier sendingreise na die Voortrekkers in Transvaal onderneem. Hy het baie gou geleer om sy preke eenvoudig, logies en prakties te hou en omdat hy die enigste predikant van die Voortrekkers was, is hy in ’n leierskapsrol ingedwing. Sy vinnige ingryping het ’n bloedvergieting verhoed - toe hy as onderhandelaar tussen Andries Pretorius en die Britse regering opgetree het. Dit het gelei tot die ondertekening van die Sandrivier Konvensie in 1852. Dit het ook gelei tot die erkenning van die onafhanklikheid van die Oranje Vrystaat.

 

Tydperk van Karakterbou

Andrew het sy 11 jaar as predikant van die Voortrekkers as waardevolle opleiding vir sy lewenslange bediening beskou; dit het ook sy karakter gebou en versterk. Sy preke was, as gevolg van hierdie leerskool, kragtig en sy optrede in alle situasies beslis. In dié tyd het hy baie bewus geword van die geestelike nood in die grootste deel van die land. In een van sy dagboeke lees ons: "…slegs God se magtige Gees is daartoe instaat om die diep vyandskap van die onbekeerde hart te oorwin."

 

Opleidings-Krisis

Andrew Murray het gesukkel om Christenskole in die Vrystaat gevestig te kry. Hy het probeer om onderwysers uit Holland te werf, maar het uit alle oorde weerstand beleef. Uit desperaatheid het die Nederduits-Gereformeerde Kerk ds. John Murray, Andrew se broer, aangestel om ’n kweekskool op Stellenbosch te vestig. John het sy twyfel oor die wysheid van hierdie stap uitgespreek, waarop sy pa, Andrew (snr.), hom uitgedaag het: "Is jy gewillig om jou lewe op die spel te plaas vir hierdie groot taak?" Hy het onomwonde geantwoord: "Ja!" Hy het hulp by Nicolaas Hofmeyr en Johan Neetling gesoek, en die Stellenbosch Kweekskool is in die lewe geroep.

 

Oproep tot Gebed

In Augustus 1859 het hierdie drie predikante van die NG Kerk ’n uitdaging aan alle predikante gerig om ’n reeks preke te hou oor die karakter van God, die rol van die Heilige Gees en die nodigheid van individuele en gesamentlike gebed vir die uitstort van die Heilige Gees: "Ons vermaan julle om getrou en innig te bid vir een uur elke week – met ander of alleen - en om God te vra dat, deur sy genade, Hy ons land sal besoek en aan ons die seën van die uitstorting van die Heilige Gees sal gee."

 

’n Boekie, The Power of Prayer, het in 1859 verskyn en artikels oor Gebed en Herlewing is gereeld in De Kerkbode en De Wekker gepubliseer. Die deursnee-lidmaat was egter, ten spyte van die entoesiasme van die predikers, baie apaties en ongeïnteresseerd. Die bid-uur in Montague het voor Mei 1860 nooit meer as drie bywoners gehad nie! Een toegewyde bemiddelaar het egter ’n voetpad na die heuwel buite die dorp uitgetrap en gereeld vir herlewing gebid.

 

Die Worcester-Konferensie

Andrew Murray het ’n uitnodiging na die gemeente in Worcester ontvang ten tye van die kerkkonferensie waarop herlewing bespreek sou word. ’n Totaal van 374 besoekers vanaf 20 gemeentes, insluitende 8 van die Murray-familie, het opgedaag. Die konferensie het op 18 April begin en die Skrifgronde vir herlewing is uitgestippel. Volgens C. Rabie, ’n tiener by die konferensie en later ’n predikant van die NG Kerk, het die herlewing by die konferensie begin.

 

Hy skryf: "Ds. Murray (jnr.) se deelname aan die eerste helfte van die konferensie was beperk tot een gebed, maar dit was só kragtig en belaai met emosie, dat mense tot diepe sondebesef gekom het. ’n Mens kan met vrymoedigheid sê dat herlewing dáár begin het."

 

Pinkster in Worcester

Andrew Murray se bediening in Worcester het op Pinkstersondag - 27 Mei 1860 - begin en sy preek was oor "Die Bediening van die Heilige Gees." Daaroor skryf Rabie: "Dit was asof een van die profete van ouds uit die dood verrys het. Die onderwerp was bekering en geloof … doodernstig." Murray het tydens Pinkster gepreek oor: "…Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God!" Jona 1:6; "…maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" Markus 16:16 en "Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan?..." Matthéüs 22:12. Nog nooit vantevore is sulke reguit, skokkende, Bybelse boodskappe gebring nie. Die herlewing in Worcester het soos ’n vuurgloed gekom.

 

Ooggetuieverslag

Een van die predikante wat die herlewing beleef het, Servaas Hofmeyr, het geskryf: "Voor die dae van herlewing was die situasie in ons gemeente bejammerlik. Liefde vir die wêreld en vir sonde; geen erns of opregte begeerte vir redding nie; sonde en ledigheid – dit was die fokus van meeste...Toe die Here onder Sy mense begin beweeg, was die gebede intens vir herlewing en genade! ’Ek is verlore!’ sal een roep. ‘God, help my!’ roep ‘n ander. En die getuienisse was hartverskeurend. Gesigte is gesien....gesamentlike gebede, selfs agter bosse en rotse, op berge en in dale, mans, vroue, bejaardes, kinders, here, dienaars – almal op hulle knieë, op dieselfde grond, besig om vir genade te smeek. Niks hiervan was deur enigiemand verwag nie, nog minder deur enigiemand voorberei, en nog minder opgewerk en gepreek deur enigiemand - dit was alles die werk van die Heilige Gees - en nie net vir ’n paar ure of ’n paar dae nie, maar vir maande lank."

 

Onuitspreeklike Vreugde

Gebedsbyeenkomste is skielik baie goed bygewoon, vol vuur en erns. Vroeg en laat het mense singend na Sy huis opgegaan. Daar was sondebelydenis, wedergeboorte en nuwe lewe! Die geloofslewe van mense het ’n innige verdieping ondergaan. Van die eerstes wat deur hierdie herlewing aangeraak is, was die bruin plaaswerkers van die omgewing. Hulle het in groot groepe op hul knieë neergesak en om genade gesmeek. Andrew Murray is eers onverhoeds betrap deur hierdie emosionele en skynbaar onordelike optrede. Sy kennis van Herlewing was beperk tot die oormatig-ordelike optrede van die Skotte. Toe Andrew Murray wou poog om kontrole te kry oor die gebedsbyeenkoms, waar mense worsteling en oortuigings van sonde ondervind het, het ’n vreemdeling aan Ds. Murray aangeraak en egter hierdie woord van waarskuwing aan hom gerig: "Wees versigtig hoe jy hierdie saak hanteer, want die Gees van God is hier aan die werk."

 

Onderskei Tussen Ware- en Vals Herlewing

Na hierdie waarskuwing het Andrew volledig met die Herlewing geïdentifiseer en het hy enige skeptiese     kritikus in die woorde van George Whitfield geantwoord: "As jy probeer om die veldvuur te blus en dit wat vals is te verwyder, sal jy ewe en gelyktydig dít wat eg is ook verwyder."

 

Nicolaas Hofmeyr vermeld dat daar ’n gees van nederigheid onder die mense geheers het. Die mense het hulself gesien as armsalige sondaars wat nie self tot die goeie in staat is nie. Gebed het toegeneem en ernstiger geword - alles onder die kragtige werking van God se Gees.

 

Platteland ook aan die Brand

Montague en Calvinia, plekke waar die weerstand teen kerklike aktiwiteite in die verlede voelbaar en duidelik sigbaar was, het ’n buitengewone uitstorting van die Heilige Gees beleef. ’n Oorweldigende gebedsbehoefte het by die mense ontstaan en bid-ure is gereeld gehou.

 

Salwing Baie Duidelik

Ds. Henry Taylor van die Presbiteriaanse Kerk in Wellington het in sy verslag oor Andrew Murray se prediking geskryf: "Sy hele menswees is in die taak ingespan en hy gloei van die vurigheid van Die Gees, wat dit onmoontlik laat lyk vir die menslike vlees om te handhaaf…gehore buig voor die oorweldigende reën van sy woorde, soos ‘n wilger voor die storm. Die hart van die luisteraar is knielend en die intellek is met ontsag vervul." Andrew het uitnodigings ontvang om by konferensies te praat en by ander gemeentes te preek.

 

Geestelike Honger Neem Toe

Die Geestelike honger in die land het toegeneem en Andrew moes noodwendig dissipelskap-opleiding aan wedergeborenes gee - dit het aanleiding gegee tot sy groot geskrewe skatkis: The Children for Christ; Abide in Christ; The Two Covenants; The New Life; The Full Blessing of Pentecost; Holy in Christ; The School of Obedience; The School of Prayer; The Ministry of Intersession; Pray without Ceasing; Absolute Surrender; Waiting on God en Like Christ.

 

Hy het een van die mees gerespekteerde Christelike outeurs oor die dieper geestelike lewe geword en meer as 200 boeke, boekies en pamflette het uit sy pen verskyn. Dit is ook in verskeie ander tale vertaal en word al vir meer as ‘n 100 jaar gereeld gepubliseer. In sy eie woorde in een van sy dagboeke: "’n Herlewing van Heiligheid is wat ons benodig. Ons benodig prediking oor Christus se eis op ons wat ons daartoe sal lei om heeltemal vir Hom en Sy Koninkryk te lewe."

 

Die Kaap Buig Voor Christus

Die Evangeliese Alliansie het ’n landswye oproep aan kerke in die Kaap gerig om gedurende Januarie ’n week vir gesamentlike gebed opsy te sit. Die Kaap was toe letterlik op hul knieë voor die Almagtige. In Januarie 1861 het Herlewing die Pêrel deurtrek. Ds. Gottlieb van der Lingen het bepreek: "Gemeente van die Pêrel, laat hierdie roeping tot hervorming jou wakker skrik? Word wakker jy wat slaap! Staan op uit die dood en Christus sal Sy lig op jou laat skyn...! En wat as jy nie nou wakker skrik nie? Sal jy dan vernuwe word voor die groot Verskyning voor die Troon in die hiernamaals."

 

Die kerkgebou het later te klein geword vir die skares wat opgekom het om te bid en verskeie bid-ure moes gehou word. Lidmate van die Paarl-gemeente het gewroeg met selfondersoek, sondebelydenis gedoen en hulle volledig aan Hom oorgegee. Van Der Lingen het self uitgeroep: "Hoeveel jaar het ek Hom nie gedien as dienaar nie! Maar wat ’n verskil om Hom te dien as seun! Nou verstaan ek die verskil."

 

In Mei 1862 het ds. Van Der Lingen voorgestel dat die gemeente ’n Pinksterreeks tussen Hemelvaartdag en Pinkstersondag moes hou. Hierdie gebruik het oorgespoel na die ander gemeentes in die provinsie en word vandag nog in die NG Kerk gehou.

 

In Graaff Reinet het die Herlewing in April 1861 begin. Tydens ’n biduur wat ná die Nagmaaldiens van die Sondagaand gehou is, is die teenwoordigheid van die Heilige Gees in só ’n mate beleef dat hulle sonder ophou gebid het - tot die Dinsdagmiddag. Toé eers het die gemeentelede die bid-uur verlaat.

 

Die Vrug word Beleef

Die NG Kerk in die Kaap het vir altyd verander. Van die vroegste tye af was daar ’n ernstige tekort aan predikante, maar ná die kragtige uitstorting van die Heilige Gees, het meer as 50 jong mans na vore gekom om as predikante opgelei te word. Selfs die weerstand teen sendingwerk het verdwyn.

 

Opofferende Diens

Andrew Murray het Paul Kruger genader om die NG Kerk te help met die vestiging van ’n sendingstasie in die Soutpansberg-gebied. Toe die eerste sendingpaar, Alexander en Hessie McKidd, van koors sterf, het ’n toetstydperk vir die kerk aangebreek. Stefanus Hofmeyr het vir meer as 10 jaar getrou onder die omliggende stamme in die Soutpansberg-gebied gewerk en baie toordokters en moordenaars het tot bekering gekom.

 

Evangelisasie

Ten spyte van intense Geestelike oorlogvoering en voortdurende aanslae van die liberale element in die NG Kerk, het Andrew Murray ’n baie bekende outeur, internasionale evangelis en die Moderator van die N.G. Kerk geword. Hy het die Afrika-instituut gestig wat gesorg het dat honderde sendelinge in Afrika uitgestuur is. Hy was ook die pionier van vroue-onderrig in Suid-Afrika, en die Hugenote Opleidingskollege vir Christen-onderwysers het deur sy toedoen ontstaan.            

                       

Afrika vir Christus

Die sendingvisie van die NG Kerk het ontplof en sendingstasies is in Masjonaland, Matebeleland, Betsjoeanaland, Njassaland, Nigerië en Soedan opgerig. In 1927 het die Sendingkomitee van die Kaapse NG Kerk 304 dienende sendelinge en 72,079 gedoopte Christen-Afrikane op hul verslagboeke gehad. Hierdie sendelinge het 1,447 skole met 2,699 onderwysers en 96,309 leerders gevestig.

 

Afrikaans is in 1925 amptelik as kerktaal erken en het ook gelyke status as landstaal verkry. Die eerste volledige Afrikaanse Bybel het in 1933 die lig gesien.

 

Andrew Murray se Uitdaging aan Jou

Andrew Murray het geskryf: "Lewe in die dapper en Heilige vertroue dat God daartoe instaat is om Sy Kerk deur jou te seën …God wag regtig net vir gebed, dan sal Hy die seëning gee."

 

 
Copyright © 2017 Reformation Society. All Rights Reserved.